
Hulle het gereageer op ’n stortvloed griewe wat deur gefrustreerde afgevaardigdes geopper is.
Mnr. Siboniso Duma, KwaZulu-Natal se LUR vir ekonomiese ontwikkeling, omgewingsake en toerisme, het bevestig dat Suid-Afrika se ontwikkelende boere van kleur grootliks uitgesluit bly van formele landbouwaardekettings en sukkel om teen hul wit eweknieë mee te ding.
“Ons moet een of ander tyd die wanbalanse van die verlede ten volle aanpak. Byvoorbeeld, 65% van Suid-Afrika se vleisbeeste word deur swart Suid-Afrikaners besit, maar die pryse wat swart veeboere behaal, is dikwels nie dieselfde wat aan wit boere betaal word nie. Tensy ware geleenthede aan swart boere gegee word, sal ons aanhou terugkom na hierdie vergaderings om te treur en te treur,” het Duma gesê.
Mnr. Bheki Cele, minister van polisie, het gesê dat die landbou en ekotoerisme twee kritieke pilare van Suid-Afrikaanse se ekonomie is en dat “hierdie regering besef dat bedrywighede in hierdie sektore in veilige en beskermde omstandighede uitgevoer moet word”.
Cele het verduidelik dat polisiëring alleen onvoldoende was om ongebreidelde misdaad onder beheer te bring. Daar moet ’n samewerkende poging oor alle sfere van die regering, die sakesektor en die burgerlike samelewing wees om die wydlopende bydraers tot misdaad te takel. Dié sluit in landelike ontwikkeling, verbeterde opvoeding, groter geleenthede om arm Suid-Afrikaners op te hef en dat staatsdepartemente en hul amptenare aanspreeklik gehou word vir die uitvoering van hul verantwoordelikhede.
“Die landelike gemeenskap word aangemoedig om deel te neem aan alle gemeenskapstrukture wat op polisiestasievlak gevestig is, soos die gemeenskapspolisiëringsforum, Gemeenskap in Blou, gemeenskapspatrolleerders en prioriteitskomitees vir landelike veiligheid. Wanneer ons almal saamwerk, kan ons meer doen om die lewe van boere, plaaswerkers, plaasbewoners en plattelandse gemeenskappe in die algemeen te verander, te beveilig en te verbeter,” het Cele gesê.
Mnr. Mcebisi Skwatsha, adjunkminister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het erken dat “as jy nie ’n titelakte het nie, het jy niks”. Hy het bygevoeg dat hoewel sy departement tot dusver groot vordering gemaak het om te help om die Suid-Afrikaanse landbou te transformeer en te ontwikkel, nog baie meer gedoen moet word.
“Die regering het die beleid ontwikkel en goedgekeur om grondhervorming te versnel en deursigtigheid in die keuse van verdienstelike begunstigdes te bewerkstellig. Teen hierdie tyd sal jy bewus wees van inisiatiewe, waarvan sommige aangedryf word deur die interministeriële komitee oor grondhervorming onder voorsitterskap van die adjunkpresident, wat hersiening van sleutelwetgewing en ontwikkeling van beleid oor grond en water insluit, die aanstelling van addisionele voorligtingspraktisyns vir kapasiteitsbou en vaardigheidsoordrag, die aangaan van vennootskappe met kommoditeitsorganisasies om tegniese bystand aan swart boere te verleen, en die ontsluiting van private finansiering deur die gemengde finansieringskema.”
Titelaktes en water
Me. Thandi Moyo, adjunk-direkteur-generaal vir landelike ontwikkeling, het gesê dat kennis geneem word van griewe rakende vertraagde uitreiking van titelaktes en dat haar departement sal prioritiseer om met geaffekteerde boere en hul plaaslike Afasa-strukture te skakel om hierdie vertragings op te los.
Mnr. Senzo Mchunu, minister van water en sanitasie, gesê dat ’n eerste sleutelstap om billike watergebruiktoewysing in Suid-Afrika aan te pak was om sy departement se verwerkingstyd vir watergebruiklisensie-aansoeke tot ’n maksimum van 90 dae te verminder. Hy het aansoekerboere egter gemaan om te verseker dat hul aansoek volledig en akkuraat ingevul word voor indiening. Dit sal onnodige vertragings met die verwerking van 'n aansoek voorkom.
“Sedert September 2021 is doelbewuste pogings deur die departement aangewend om die hoeveelhede water wat vir swart mense vir produktiewe doeleindes toegewys en gebruik word, te verhoog. Ons is besig om besproeiingsrade in meer verteenwoordigende watergebruikersverenigings te omskep. Ons het ’n onafhanklike ekonomiese waterreguleerder gestig om te verseker dat watertariewe bekostigbaar is en op grondige bevindings gegrond is.”
Hy het gesê dat die watertribunaal toegerus word om sy huidige agterstand te takel en om vorentoe beter in staat te wees om sake vinnig en doeltreffend af te handel. Die departement van water en sanitasie is besig met regsprosesse rakende die oordrag van lisensies verbonde aan grond- en waterregte.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.