
Grondhervorming sal nie sommer die landbou se rug breek nie, maar eerder kwessies soos waterregte en arbeid.
“Die gevoel in my derms is dat ons grondhervorming sal oorleef, hoewel dit met ’n paar skaafplekke sal wees,” het dr. Theo de Jager, visevoorsitter van Agri SA, by Agri Noordwes se jaarkongres gesê.
Hy het ’n paneelbespreking oor transformasie-, arbeid- en maatskaplike vraagstukke gelei en gesê hy het nie slapelose nagte oor die 50%-voorstel van mnr. Gugile Nkwinti nie, omdat daar genoeg sterk stemme in die ANC is wat weet dit kan nie werk nie.
Hy is optimisties dat daar “ ’n sagte oor in die hart van die Regering” vir boere se saak is, maar hy is benoud dat hierdie venster kan toegaan voordat dit behoorlik benut is.
De Jager het vertel hy het onlangs ’n “warm ontmoeting” met mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, gehad.
Die minister het die georganiseerde landbou beskuldig dat hy nie sy kant bring nie: Dat hy kán help, maar dit nie doen nie, en dat dié sektor homself polities as teenstander van die restitusieproses gestel het. Toe De Jager aan hom uitwys dat die departement nie by vorige ondernemings gehou het nie, soos om nie die grondeiseproses te heropen nie, het Nkwinti gesê boere toon min begrip vir die emosie rondom dié kwessie, veral waar dit oor kultuurhistoriese goedere op plase gaan, soos grafte en monumente.
De Jager het aan Nwinti gesê hy is soos iemand wat van die teerpad op ’n tweespoorpaadjie afgedraai het en wat nie weet of daar vorentoe omdraaiplek is nie. “Die heropening van grondeise druk ’n stok in die wiel van ál die ander prosesse.”
Volgens De Jager erken amptenare in die departement dat daar vorentoe probleme kan kom, maar sê hulle het nou ’n soort dink-vakansie terwyl eise die volgende vyf jaar ingedien word.
De Jager het gesê boere moet intussen die goeie verhoudinge met hul werkers verder versterk en elkeen moet daartoe bydra om die beeld van die gemiddelde boer te verbeter.