
Die ad hoc-komitee het tot 31 Mei 2021 gehad om sy verslag en die wysigingswet te voltooi, waarvolgens onteiening sonder vergoeding duidelik in die Grondwet ingeskryf word.
Omdat die ANC en die EFF nie konsensus oor ’n paar punte kon bereik nie, het die komitee die parlement versoek om die komitee nog 30 dae te gun om sy werk te voltooi.
TLU SA sê die gedeelte waarop die klem nou is, is dat enige natuurlike hulpbronne (en eiendom) sonder vergoeding onteien kan word solank dit vir ’n openbare doel of in die openbare belang is.
Mnr. Henry Geldenhuys, president van TLU SA, sê die beskrywing is doelbewus so vaag sodat enigiets wat privaat besit word, sonder vergoeding onteien kan word. Dit is volgens hom van die punte waarop die EFF sedert die begin van die proses hamer.
Hy is ook oortuig dat die ANC se voorgestelde veranderinge aan die wysigingswetsontwerp só kort voor die spertyd ’n poging is om die EFF voor die volgende verkiesing te paai.
“Die EFF maak geen geheim daarvan dat dit ’n sosialistiese agenda nastreef nie en hierdie voorstelle sluit 100% hierby aan. Die EFF het dit ook al duidelik gemaak dat hy onder geen omstandighede van hierdie voorstelle sal afstand doen nie. Dit is dus baie duidelik dat die ANC se ommeswaai na bilaterale gesprekke met die EFF ’n poging is om steun te wen in die komende verkiesing.”
Hy sê die skielike aankondiging van die ANC dat die hele artikel 25 gewysig moet word, is beslis nie om toe te gee aan die “deelnemende demokrasie” soos wat die komitee se voorsitter daarna verwys nie. Dit is belangrik om na “die mense van Suid-Afrika” se insette te luister, maar dit is ook belangrik om realisties te wees en te besef dat die ekonomie nie hierdie voorstelle gaan kan dra nie.