
Nadat die nuus bekend geword het, het die rand teen laatoggend swakker begin verhandel.
#BreakingNews #CRC recommends that #constitution should be amended to allow for #expropriationwithoutcompensation @landbou #landreform pic.twitter.com/ZAmE6hRsPC
— LandSpasm (@JoyleneVanWyk) November 15, 2018
Die ANC het sy meerderheid in die komitee
gebruik om die verslag deur te voer wat spesifiek aanbeveel dat artikel 25 (die
eiendomsklousule) van die Grondwet gewysig moet word sodat onteiening sonder
vergoeding kan plaasvind.
Opposisiepartye het gekla dat die paneel nie die regte prosedure gevolg het nie deur meer as 400 000 geskrewe voorleggings nie in ag te neem nie.
Agri SA het die komitee se besluit as ’n “onaanvaarbare uitkoms van ’n maande lange konsultasieproses” bestempel en gesê hy begin vandag die volgende fase van sy taktiese plan teen onteiening sonder vergoeding.
’n Duidelike lyn
“Die aanbeveling van die grondwetlike hersieningskomitee rakende die wysiging van artikel 25 is lynreg in stryd met die doelwitte van eiendomsbeskerming, ekonomiese stabiliteit, werkskepping, beleggersvertroue en volhoubare transformasie binne die landbou,” sê die organisasie in sy reaksie.
“Ons het reeds voorbrand gemaak om doeltreffend op te tree en sal bykomende hulpbronne in die stryd werp,” sê mnr. Dan Kriek, voorsitter van Agri SA. “Agri SA glo in gesprekvoering met alle belanghebbendes, maar dit is nou tyd om ’n duidelike streep te trek.”
Die organisasie sê hy sal regsadvies oor moontlike regstappe inwin en die proses wat die hersieningskomitee gevolg het, hersien.
“Agri SA win deurentyd regsadvies in en litigasie is onder oorweging,” sê me. Annelize Crosby, hoof van grondsake by Agri SA. “Die aanbeveling is slegs die eerste stap in ’n lang en moeisame proses om die Grondwet en verwante wetgewing te wysig. Agri SA sal in dié proses deurentyd sy standpunte voorhou.”
Die rand
Die rand het Donderdagoggend stewiger verhandel ná nuus oornag dat die dollar verswak het, maar toe die nuus van die grondwetkomitee se aanbeveling bekend word, het die plaaslike geldeenheid binne ’n halfuur van R14, 23/$ tot R14,36/$ verswak, voor dit weer effens herstel het.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.