
“Ons is dankbaar vir die uitstel, want dit gee ons tyd om meer mense te bereik,” sê mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van die TLU SA.
Die Parlement se grondwetlike hersieningskomitee wat met die taak belas is om moontlike wysigings aan Artikel 25 van die Grondwet te ondersoek en aanbevelings te maak, het verlede week versoek dat die sluitingsdatum om kommentaar te ontvang van 31 Mei tot 15 Junie verleng word.
Volgens die parlementêre moniteringsdiens is die datum dienooreenkomstig uitgestel en sal openbare verhore oor die kwessie van 26 Junie tot 6 Augustus plaasvind. Klik HIER vir die verhore se skedule.
Me. Annelize Crosby, hoof van grondsake by Agri SA, sê na verwagting sal dié voorstel en die parlementêre proses die meeste kommentaar wat tot nog toe op ’n Suid-Afrikaanse beleid gelewer is, oplewer. Die komitee het reeds 140 000 bydraes ontvang, en tot ’n halfmiljoen word verwag.
“Ons hoop dat daar twee tot drie miljoen kommentare sal wees sodat alle kommentare en besware deurgegee kan word,” sê Van Zyl. Hy is tans besig om wyd oor Suid-Afrika heen te reis om boere aan te moedig om hul kommentaar en besware op die voorgestelde wysiging in te stuur.
Crosby sê Agri SA se provinsiale affiliasies en bedryfskamers is tans besig om hul kommentaar in te stuur sodat dié organisasie ’n deeglike en oorhoofse voorlegging kan instuur. “Ons sal steeds ons kommentaar teen 31 Mei lewer. Die dokument kan na verwagting tot 200 bladsye lank wees.”
Navrae en kommentaar kan aan me. Pat Jayiya gestuur word by e-pos pjayiya@parliament.gov.za. Slakkepos kan ook gestuur word aan: Konstitusionele Oorsigkomitee, Parlement, Posbus 15, Kaapstad 8000.