
Maimane het tydens sy repliek op pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede dié netelige taak wat Ramaphosa in die gesig staar, opgesom.
Die ANC het sy nasionale uitvoerende komitee op sy beleidskonferensie in Desember gelas om veranderinge aan artikel 25 van die Grondwet voor te stel wat die onteiening van grond sonder vergoeding moontlik kan maak.
Ramaphosa vra hulp
Ramaphosa het Vrydagaand in sy staatsrede ’n spesiale versoek tot die finansiële sektor gerig om die Regering se vennoot te wees om hulpbronne te mobiliseer sodat grond onteien kan word sonder vergoeding. Hy het benadruk dat dit só toegepas sal word dat landbouproduksie verhoog en voedselsekerheid dus verbeter word.
Hy het aangedui dat die landbousektor van die grootste geleenthede vir beduidende groei in die land se ekonomie en arbeidsektor bied. Vanweë dié sektor se bydrae het die land se ekonomiese groei in die tweede en derde kwartaal van 2017 verbeter.
“Vanjaar sal ons besliste stappe doen om die enorme ekonomiese potensiaal van die landbou te verwesenlik. Ons sal ons grondhervormingsprogramme versnel, nie net om die bedenklike historiese ongeregtigheid te herstel nie, maar ook om meer produsente na die landbousektor te bring en om meer grond beskikbaar te stel vir bewerking,” het Ramaphosa gesê.
Eiedomsreg ondersteun die ekonomie
Maimane het tydens sy repliek uitgewys dat dit moedige leierskap verg om druk van jou party te weerstaan om die regte in die Grondwet, insluitende eiendomsregte, ongedaan te maak.
“Hierdie eiendomsregte ondersteun die hele ekonomie, soos jy weet uit jou eie suksesvolle sakeloopbaan.”
Maimane het gesê hoewel die gevolge van die onteiening van grond ingevolge die Wet op Naturelle-grondbesit van 1913 aangepak moet word, moet dit gedoen word op ’n manier waar die reg gerespekteer en die regte van huidige en toekomstige grondeienaars beskerm word.
Opkomende swart boere moet ware grondeienaarskap kry en nie net permanente huurders op staatsgrond wees nie.
Hy het ook gesê dat boere nie in onsekerheid gehou kan word of hul grond sonder vergoeding onteien gaan word nie.
Mnr. Julius Malema, leier van die EFF, het tydens sy repliek gesê dat Ramaphosa vir die gehoor speel en nie ernstig is oor onteiening sonder vergoeding nie.
Sy waarskuwing aan diegene wat dit teenstaan, is dat hulle beskou word as ’n vyand en aangevat sal word. Hy het aangedui dat daar geen voorwaardes moet wees wat loop saam met die onteiening van grond sonder vergoeding nie, want in die verlede is die grond net afgevat.
Grondhervormingsplan
Intussen is Agri SA besig om sy eie grondhervormingsplan te ontwikkel in ’n poging om suksesvolle grondhervorming aan te help.
Mnr. Omri van Zyl, uitvoerende hoof van Agri SA, sê dat die “transformasieplan vir grond” wat ontwikkel word, op kommersiële vlak aangedryf sal word. Die plan sal probeer om nasionale produksie beduidend te verhoog sonder dat die Grondwet verander hoef te word. Die ondermyning van private eienaarskap en die verwagting dat die private sektor geesdriftig ’n vennootskap met die staat moet omarm, sal net nie gebeur nie.
“Dit is deur ’n wen-wen-vennootskap en beleidsekerheid dat die visie van ’n veilige, produktiewe en tevrede Suid-Afrikaanse gemeenskap verwerklik kan word.”
Dr. John Purchase, uitvoerende hoof van Agbiz, het gesê dat Agbiz en die Bankvereniging van Suid-Afrika (Basa) reeds meer as twee jaar gelede ’n kommersiële plan ontwikkel het om grondhervorming te versnel.
“Hoewel die pogings van Agbiz en Basa om hierdie medefinansieringsmodel toe te pas in beginsel deur die Minister en Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervormning aanvaar is, het niks van hierdie inisiatief van die private sektor gekom nie.
“ ’n Mens sal maar moet sien hoe dit nou skielik omgekeer gaan word,” het Purchase gesê.