
’n Hele paar versoeke vir onteiening van die Kommissie vir die Herstel van Grondregte is op die tafel van mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming.
Hoewel onteiening nie ’n nuwe proses is nie, en daar voorheen reeds grond vir restitusie geëis is, blyk dit dat hierdie roete al hoe meer toegepas sal moet word met grondeienaars wat weier om die waardasie van grond deur die waardeerder-generaal te aanvaar.
Altesaam sewe versoeke om plase in Mpumalanga en Limpopo te onteien is reeds deur me. Nomfundo Gobodo, hoof-grondeisekommissaris, onderteken en aan Nkwinti gestuur vir grond wat deur die waardeerder-generaal gewaardeer is waar die grondeienaars weier om die prys te aanvaar.
Landbou.com verstaan dat grondeienaars in sommige gevalle tot tien keer die waardeerder-generaal se waardasie verwag. Die grondeienaars wil glo hê die Regering moet hulle vergoed vir toekomstige verliese.
Suid-Afrika het sy eerste waardeerder-generaal, mnr. Christopher Gavor, in 2015 aangestel wat die “billike” en “regverdige” vergoeding vir grond moet bepaal wat vir onteiening geoormerk is, asook grond wat vir grondhervorming geïdentifiseer is.
LEES OOK: Volgende stap met onteieningswet beplan
Onteiening nie nuut
Gobodo het by die Parlement gesê dat daar heelwat aanbiedinge van die waardeerder-generaal is wat boere nie wil aanvaar nie en daarom is besluit om die onteieningsroete te volg.
“Hy doen die waardasie as waardeerder-generaal en ons lig die relevante grondeienaar in oor die waarde van die grond en somtyds word die aanbod van die hand gewys.”
Sy het benadruk dat onteiening nie iets nuuts is nie. Al wat nou anders is as voorheen, is dat daar ’n bepaling van die billike en regverdige vergoeding is en wanneer die aanbod van die hand gewys word, word die grond onteien met vasgestelde vergoeding wat uitbetaal word. Die Wet op die Herstel van Grondregte maak voorsiening vir die onteiening van grond.
Die kommissie en die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, het verslag oor sy besteding in die eerste kwartaal van die 2017/’18-geldjaar by die portefeuljekomitee vir landelike ontwikkeling en grondhervorming gedoen.
Volgens die Regering was hy genoodsaak om ’n alternatief vir die beginsel van “gewillige koper en gewillige verkoper” te vind vir grondaankope sodat grondpryse nie buitensporig styg wanneer hy grond vir grondhervormingsdoeleindes aankoop nie. Hy het kragtens die Wet op Eiendomswaardering die pos vir die land se eerste waardeerder-generaal geskep.
Gobodo het ook aangedui dat 3,4 miljoen ha grond sedert die begin van die restitusieproses tot einde Junie 2017 vir begunstigdes van die herstel van grondregte bekom is. Dit het R21 miljard gekos en geldelike vergoeding van R12 miljard is ook uitbetaal.