
Dit is Vrydag bevestig deur me. Patricia de Lille, minister van openbare werke en infrastruktuur.
Die kragvoorsiener beoog om nuwe transmissielyne in Limpopo op te rig. Al die eienaars van eiendom wat hierdeur geraak word, is in kennis gestel en is die geleentheid gegee om kommentaar te lewer, luidens ’n verklaring wat namens De Lille deur die departement uitgereik is.
“Die aansoek is namens Eskom deur mnr. Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, ingedien. Dit is nodig geag omdat die huidige transmissielyne in Limpopo onvoldoende is en nie in die elektrisiteitsbehoeftes van mense in die streek voldoen nie,” lui die verklaring.
Die roete van die beoogde nuwe transmissielyne strek oor private en staatseiendom. Eskom het luidens De Lille se verklaring aangedui dat waar die transmissielyne oor private eiendom loop, sal die serwitute en die beoogde bouwerk nie enige nadelige uitwerking hê wat nié deur redelike vergoeding aan die eienaars aangepak kan word nie – wat Eskom gewillig is om te betaal. Die kragverskaffer het ook reeds die nodige omgewingsmagtiging van die departement van omgewingsake verkry om die nuwe transmissielyne op te rig. Die beoogde roete se impak op die omgewing en op private eiendom is in ag geneem in die beplanning daarvan, luidens die verklaring.
“Ná Eskom se aansoek aan my het sommige eienaars wat geraak word, serwituut-ooreenkomste met Eskom gesluit en die aanbiedinge van vergoeding aanvaar,” sê De Lille.
Die eienaars van eiendomme wat nie serwituut-ooreenkomste aangegaan het nie, is luidens die verklaring ingelig van die staat se beoogde onteiening ingevolge die Onteieningswet (Wet 63 van 1975). Hulle het ook die nodige onteieningskennisgewings ontvang.
Volgens De Lille was die datum waarop die onteiening in werking getree het, op 31 Januarie en sou die onteieningsregte reeds van 1 Februarie deur Eskom uitgeoefen word.
Die eienaars wat nie ooreenkomste gesluit het nie en onteieningskennisgewings ontvang het, moet binne 60 dae van die ontvangs geskrewe verklarings aan die departement van openbare werke en infrastruktuur rig. Dit moet inligting bevat soos die bedrag wat die eienaar as vergoeding eis, en besonderhede van die verbeterings op die eiendom wat geraak word.
“Dit is belangrik om daarop te let dat die onteiening streng volgens die voorwaardes van die toepaslike wetgewing gedoen sal word,” sê De Lille.Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.