
Só het belanghebbendes en ontleders gereageer nadat die grondwetlike hersieningskomitee Donderdagoggend aanbeveel het dat artikel 25 van die Grondwet gewysig moet word om grondonteiening sonder vergoeding moontlik te maak.
“Daar is reeds genoeg bewyse van beleggers wat wag en kyk wat met hierdie kwessie gebeur voor hulle belê. Ons kan dus verwag dat dit die ekonomie nadelig sal raak,” sê prof. Johan Willemse, landbou-ekonoom en gereelde rubriekskrywer van Landbouweekblad.
Agri SA het in sy reaksie gesê die voorgestelde wysiging is polities-gemotiveerd en sal “grootskaalse skade” aan die Suid-Afrikaanse ekonomie aanrig.
Nie onverwags
“Die voorrangsaak vir miljoene Suid-Afrikaners is werkskepping, behuising, misdaadbekamping en goeie onderwys. Die Regering behoort daarop te konsentreer pleks van roekelose en populistiese grondwetlike wysigings,” lui dié organisasie se verklaring.
Willemse sê Donderdagoggend se besluit was nie onverwags nie.
“Uit ’n populistiese hoek het ons dit verwag, want in die konteks van die komende verkiesing is partye soos die ANC en EFF meer bekommerd daaroor om herverkies te word as om die ekonomiese voorspoed van die land te verseker.”
Mnr. Theo Venter, politieke ontleder van die Besigheidskool van die Noordwes-Universiteit, sê die ANC het hom in ’n politieke hoek vasgeverf toe hy einde verlede jaar op sy nasionale konferensie by Nasrec in Johannesburg ’n resolusie oor grondonteiening sonder vergoeding aanvaar het.
“Daarna het die EFF hom met ‘n mosie in die Parlement gedwing om die besluit deur te voer. Sedertdien moes hulle net hul eie ondersteuners se verwagtige bestuur.”
Grootskaalse onteiening?
Venter sê dit is onwaarskynlik dat grootskaalse onteiening sonder vergoeding sal plaasvind, tensy staatsgrond ter sprake is.
“Onteiening met geen vergoeding sal in normale omstandighede net op beperkte skaal toegepas word, maar die aanvaarding van die aanbeveling sal die staat wel groter geleentheid gee om oor die prys van grond te beding.”
Albei ontleders is die eens dat dit nog ‘n geruime tyd kan duur voor onteiening sonder vergoeding ‘n werklikheid word. Volgens Venter is die besluit van die hersieningskomitee net die begin van ’n proses wat later in die Parlement voltrek moet word.
“Hierdie debat gaan nog lank met ons wees, veral as die komitee se aanbeveling in die hof getoets word,” sê Willemse.
Politieke doelwit
Intussen het die burgerregte-organisasie AfriForum sy regspan opdrag gegee om voor te berei vir regsoptrede om die proses te stuit om die Grondwet te verander.
Luidens ’n verklaring sê die organisasie dit volg nadat dit aan die lig gekom het dat die komitee bereid was om ’n verskeidenheid prosedurele gebreke oor die hoof te sien om tot die gevolgtrekking te kom dat die Grondwet wel gewysig moet word.
AfriForum het vroeër vanjaar ’n memorandum en ’n petisie teen onteiening sonder vergoeding wat deur meer as 250 000 van AfriForum se lede en ondersteuners onderteken is, by die Parlement ingedien. Die komitee het egter die petisie en memorandum verwerp.
Mnr. Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, sê dit is baie duidelik dat die komitee ’n politieke doelwit het en bereid is om ooglopende prosedurele gebreke in die proses te ignoreer om sy mandaat uit te voer.