
Die wetsontwerp is verlede week deur die portefeuljekomitee oor openbare werke en infrastruktuur goedgekeur ná openbare deelname en insette van opposisiepartye, burgerlike organisasies en tradisionele leiers landwyd.
Spesifieke klousules van die wetsontwerp is tydens die vergaderings en byeenkomste as omstrede uitgelig.
Daar is veral kommer oor die definisie van onteiening wat die deur kan oopmaak vir onteiening sonder vergoeding. Daar is ook vrese dat die wet, indien dit in sy huidige formaat aanvaar word, private eiendomsreg kan verwater en verswak.
Kritiek en teenkanting teen van hierdie klousules is in die verslag oor die wetsontwerp saamgevat.
Die doel van die wetsontwerp is om die bestaande Onteieningswet van 1975 te vervang met ’n gemeenskaplike raamwerk wat aan staatsinstellings moet voorskryf hoe onteiening van eiendom deur die staat kan plaasvind. Die wetsontwerp moet ook spesifieke gevalle omskryf waar die staat onteiening sonder vergoeding kan toepas, veral wanneer so ’n stap tot voordeel van die publiek is.
Die wet is nou op pad na die nasionale raad vir provinsies.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.