
’n Wanopvatting bestaan dat die wysigingswetsontwerp op onteiening (B23 van 2020) ’n stuk gereedskap is om grondhervorming, wat as ’n mislukking geag word, te bevorder, het die parlement se portefeuljekomitee op openbare werke gehoor.
Die inhoudsadviseurs van die komitee het verslag gedoen oor die meer as 130 000 kommentare wat ingekry is sedert die oopstel van die proses waar die publiek vanaf verlede jaar op verskeie maniere kommentaar op die wetsontwerp kon lewer. Die wysigingswetsontwerp gee die omstandighede waar ’n hof mag bepaal dat nulvergoeding betaal mag word wanneer grond vir openbare doeleiendes onteien word.
Altesaam 129 127 e-posse en 6 216 WhatsApp-kommentare is teen die spertye ontvang. Altesaam 99% van die e-posse was gekant en slegs 1% ten gunste van die wysiging. Rakende die WhatsApp-kommentare was 33,8% gekant en 66,2% ten gunste daarvan.
Mnr. Shuaib Denyssen, inhoudsadviseur van die komitee, het gesê volgens kommentaar van die georganiseerde landbou is die wetsontwerp ’n slinkse plan van die staat om sy mislukte grondhervormingsagenda aan te pak.
Denyssen het gesê dit is nie die geval nie. “Die punt moet gemaak word en indieners van kommentaar moet reggehelp word dat die wetsontwerp nie oor grondhervorming gaan nie, maar verwant daaraan is. Dit handel oor ’n administratiewe stelsel waarmee die staat vir openbare doeleindes kan onteien soos voorsien in die Grondwet.”
Landbou-organisasies het voorgestel dat opkomende boere gesubsidieerde krediet moet kry om grond aan te koop. Hy het gesê hierdie voorstel, hoewel relevant en nodig, kan nie in die wetsontwerp gesit word nie.
In die kommentare het dit duidelik na vore gekom dat grondeienaars en kommersiële boere vrees dat hulle hul grond sal verloor en dat daar baie lang en duur hofsake kan wees as hul grond onteien word. Hulle het ook aangedui dat die wysigingswetsontwerp die persepie by mense laat toeneem dat hulle grond sal kry, wat sommige meen tot ’n toename in plaasaanvalle gelei het.
Daar was ook uitgewys dat onteiening met nulvergoeding, ’n onrealistiese verwagting is en dat voedselsekerheid bedreig word, want dit bring onstabiliteit na swart en wit boere wat almal nadelig geraak sal word.
Mondelinge kommentaar
Altesaam vier individue en 22 organisasies het mondelinge insette gelewer waar 56% hul teenkanting met die wysigings te kenne gee, 3% die middeweg gekies het en 41% ten gunste daarvan is. Openbare verhore is in 36 distrikte in die nege provinsies gehou waarin 27% van die persone wat deelgeneem het, hulle teenkanting aangedui het, 31% onseker is en 42% ten gunste is daarvan.
Volgens die inhoudsadviseurs het die meeste van diegene wat mondelinge kommentaar gelewer het, uitgewys dat die bestaande Wet op Onteiening (Wet 63 van 1975) onvoldoende is en dat dit gestandardiseer en die onteieningsprosedure duidelik uiteengesit moet word. Daar was ook ’n breë konsensus dat herstel vir die grondonteiening van die verlede moet kom. Daar is voorgestel dat die wysigingswet ’n duideliker en meer toegespitse definisie van eiendom moet hê.
Besigheidseenheid Suid-Afrika (Busa) en Agbiz het in hul gesamentlike voorlegging aangedui dat hulle bekommerd is oor die impak wat nulvergoeding op beleggersvertroue en finansies sal hê. Hulle is gekant teen nulvergoeding met onteiening en is ook onseker waarom net sekere eiendomme uitgesonder word. Baie insette het ook aangedui dat dit nie nodig was om die bestaande onteieningswet te herroep nie.
Rakende kommentaar gelewer by die openbare verhore in die provinsies, is gesien dat ondersteuners van die ANC, DA en EFF geskrewe kommentare gehad het met die siening van die party wat hulle ondersteun. Tradisionele rade het weer versoek dat kommunale grond nie onderhewig aan onteiening moet wees nie. Wat ook waargeneem is, is dat mense die wetsontwerp op onteiening en die proses vir die wysiging van artikel 25 van die Grondwet verwar.
Die portefeuljekomitee sal die wysigingswetsontwerp in die eerste kwartaal van 2022 noukeurig deurgaan om die proses te finaliseer en sy finale verslag in die nasionale vergadering ter tafel lê.