
Mnr. Johan Holtzhausen, mede-eienaar van die Ortus-boerdery, wat onder meer meer aartappelmoere, mielies en voergewasse verbou, het gesê die Ortus-boerdery erken die belangrikheid van grondhervorming en is daarom aktief betrokke.
“Ons is besig om 111 ha van ons grond te skenk aan ses families wat op ons grond woon.”
Holtzhausen het gesê hulle werk saam met die Regering en wil ’n suksesvolle onderneming op die grond vestig. Hy het egter benadruk hoe belangrik dit vir ’n boerdery se oorlewing is dat die grond wat hy gebruik, waarde het.
“Dit is nie maklik om te boer nie. Dit is baie moeilik. Jy moet diversifiseer en jy moet bykomende finansiering by die banke kry.
“Die grond wat ons besit, is vol geleenthede. Omdat dit waarde het, het ek toegang tot bykomende finansiering. As ek dít nie het nie, kan ek nie suksesvol boer nie, en as ek nie suksesvol kan boer nie, kan ek nie my gemeenskap ondersteun nie.”
Holtzhausen het gevra wat die oogmerk met die moontlike verandering van die Grondwet is, en of dit is om mense op die grond volhoubaar te bevoordeel.
Hy het gesê hy moet die ses huishoudings op hul plaas meer as grond gee: Hy moet hulle die geleentheid gee om volhoubaar daar te boer, in vennootskap met die Regering, en met mense wat finansiering bied.
“Ek pleit by u om die wysiging van die Grondwet baie versigtig en met verantwoordelikheid te oorweeg. Grond het net waarde as dit deel kan wees van die ekonomie. As ’n mens dit onteien en gratis aan mense gee, verloor grond sy waarde.”
Beheer oor ekonomie
Verteenwoordigers van die DA, Agri Mpumalanga en AfriForum se Middelburg-tak was saam met Holtzhausen van die min sprekers wat gemaan het teen die wysiging.
Die meeste sprekers was ten gunste daarvan. Talle mense het baie emosioneel geraak oor die kwessie.
Mense het gesê as die Regering vir hulle grond kan gee, sal hulle die ekonomie kan beheer en sal dit hul waardigheid herstel. Dit sal probleme met werkloosheid en armoede oplos.
Een spreker het gesê weens armoede woon swart mense in “konsentrasiekampe”. ’n Paar het gesê dit behoort nie nodig te wees om redes aan te voer waarom die grond teruggegee moet word nie, omdat dit gesteel is.
Mnr. Ken Robertson, die DA se skadu-adjunkminister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, het ná die verhoor gesê mnr. Vincent Smith, medevoorsitter van die komitee wat die hersiening van die Grondwet ondersoek, het die sprekers goed beheer en sy bes gedoen om te keer dat sprekers uitgejou word.
Robertson sê die verhore trek die aandag af van die feit dat die ANC misluk het om grond te hervorm.
In die vorige en huidige boekjaar is meer geld begroot vir eenhede vir baie belangrike persone as vir grondhervorming.
Robertson sê kommersiële boere word dermate gedemoniseer dat hulle huiwerig raak om as mentors op te tree, terwyl hul kundigheid juis nodig is vir suksesvolle grondhervormingsprojekte.