
Botma is aan ’n hartaanval dood terwyl hy in die Mediclinic in Klerksdorp vir die Covid-19-virussiekte behandel is.
Sy vrou, Hannetjie, het ook positief vir die virus getoets, maar is tuis behandel. Botma is op 16 Junie positief vir die virus getoets en sy vrou die volgende dag.
Mnr. Japie Grobler van Vierfontein, ’n jare lange skoolvriend van die Hoërskool Bothaville, beskryf Botma as landbouleier wat diep spore in die graanbedryf getrap het. “Hy het sy standpunte onverskrokke verdedig en altyd die boer se saak gestel,” sê Grobler. “Sy onverskrokkenheid het juis soms veroorsaak dat Bully op tone getrap het, maar hy het nie van sy standpunt weggeskram nie.”
Botma was die ondervoorsitter wat Grobler op die kongres van 2004 as voorsitter van Graan SA opgevolg het. Hy het ook toe Grobler se voorsitterskap van die Mielietrust oorgeneem en het die probleme wat met die doeltreffende finansiering van Graan SA ondervind is, bygelê.
“Bully het as medestigter van die Mielietrust my jare lank ondersteun met die gesukkel met vier ministers van landbou om die trust tot stand te bring,” sê Grobler. “Hulle was mnr. Greyling Wentzel, dr. Kraai van Niekerk en mnr. Derek Hanekom, maar in die dienstyd van me. Thoko Didiza is ’n komitee gevorm met haar aanbeveling van 13 teen 1 dat die ereskuld uit Wentzel se tyd aan die mielieboere betaal word. Aanvanklik is die trust met R48 miljoen begin, wat op ’n tydstip tot R1 miljard vermeerder het.”
Volgens hom is Botma se vernaamste bydrae tot die mieliebedryf die rol wat hy as voorsitter saam met wyle mnr. Vic Mouton, die laaste voorsitter van die Mielieraad, gespeel het om die geld vir die Mielietrust te bekom waarsonder Graan SA nie sy navorsing kon aanpak nie.
Mnr. Nico Vermaak, bestuurder van korporatiewe dienste by Graan SA, wat saam met Botma gewerk het, sê Botma het in die hoofbestuur van Nampo en Graan SA gedien. “Graan SA groet een van sy grotes wat die graanboere van Suid-Afrika in verskeie komitees, forums en trusts gedien het.”
Me. Hetienne von Abo Moolman, ’n voormalige voorsitter van die Mieliehoofstad-sakekamer op Bothaville, sê Botma het met sy unieke persoonlikheid daarin geslaag om goeie verhoudinge in die gemeenskap te bevorder.
Sy sê hy het die afgelope dekade as konsensussoeker in die stadsraad strydende partye laat saamwerk en hy was veral bekend om ingeligte besluite, te danke aan sy agtergrond uit die georganiseerde landbou.
Botma word oorleef deur sy vrou, Hannetjie, hul seun en drie dogters.