
Die dam is sonder ’n watergebruikslisensie gebou.
Die tribunaal het die aansoek om verlof tot appèl teen ’n direktief van die departement van water en sanitasie dat die dam gesloop moet word, van die hand gewys.
Die departement het dié beslissing van die tribunaal in ’n verklaring bekend gemaak en verwelkom. Luidens die verklaring wou die Corona-plaastrust appelleer sodat hy kon voortgaan om onwettig ’n dam op die plaas Bergview by Winterton in KwaZulu-Natal te bou.
Mnr. David Gace, ’n boer en trustee van die trust, het volgens die departement in 2016 om ’n watergebruikslisensie aansoek gedoen om die dam te bou. Op 10 Januarie 2019 het hy voortgegaan om die dam te begin bou, al het hy nog nie ’n lisensie gehad nie.
Die departement se afdeling vir damveiligheid het op 30 Januarie 2019 die terrein besoek en op 1 Februarie 2019 met die boer vergader. Dit het gelei tot ’n kennisgewing dat ’n direktief teen die boer uitgereik gaan word kragtens artikel 53 (1) van die Nasionale Waterwet (Wet 36 van 1998).
Die kennisgewing het die boer ingelig dat hy artikel 22 (1) van die wet oortree omdat hy onwettig met watergebruike begin het, naamlik die opgaar van water in die dam, die belemmering of afkeer van die vloei van water in ’n waterweg, en die wysiging van die bedding, oewers, loop of eienskappe van ’n waterweg.
Die departement het die voorleggings wat die boer hierna aan hom gemaak het, verwerp. Dit het gelei tot die uitreiking van ’n direktief kragtens artikel 53 (1) van die wet op 13 Maart 2019.
Die direktief het gelui dat die boer en die Corona-plaastrust alle onwettige watergebruike en -bedrywighede moet staak, insluitend die bou van die onwettige dam, en ’n plan vir die sloping en rehabilitasie van die dam vir die departement se goedkeuring moet opstel, voordat dié werk begin word.
Die boer het luidens die verklaring die vereiste plan opgestel en ingedien, maar geweier om die damwal af te breek.
Hy het ’n appèlaansoek teen die direktief by die tribunaal ingedien, en die direktief beskryf as irrasioneel, onredelik en ongrondwetlik. Hy het ook aangevoer dat die afbreek van die dam neerkom op ontneming van eiendom.
Die tribunaal het nou bevind dat die dam ’n onwettige struktuur is en nie retrospektief gemagtig kan word nie. Dit het ook bevind dat die boer se optrede strydig was met goeie omgewingsbestuur en die oppergesag van die reg, wat dit ’n strafregtelike oortreding maak.
Luidens die bevindings bedreig die onwettige watergebruik potensieel ekologiese behoeftes stroomaf. Enige water wat deur die dam opgevang word, het ’n uitwerking op die waterbalans en -beskikbaarheid in die ekostelsel, omdat die watersiklus verbind is aan reënafloopwater en die oppervlak- en grondwater voed.
Die tribunaal het die direktief van 13 Maart 2019 bevestig en gesê die boer moet binne 14 dae hieraan voldoen.
Die departement raai die publiek in die verklaring aan om nie damme onwettig te bou nie en om hul naaste kantoor van die departement of die damveiligheidskantoor te kontak by damsafety@dws.gov.za vir leiding oor die vereistes vir aansoeke vir lisensies om nuwe damme te bou of ’n dam te verander of te vergroot.
“Die departement se afdwingingseenheid, die blou skerpioene, sal voortgaan om dam-eienaars wat die wet oortree, te dwing om (aan die voorskrifte) te voldoen. Dit is ’n strafregtelike oortreding om ’n dam sonder die vereiste watergebruiks- en damveiligheidslisensies te bou,” luidens die verklaring.