Eskom is tans besig om aansoeke vir kleinskaalse netwerkgekoppelde kragopwekking (SSEG) te verwerk. Boere wat reeds stelsels het wat aan die netwerk gekoppel is, maar wat nie by Eskom geregistreer is nie, moet so vinnig moontlik met Eskom daaroor in verbinding tree.
Só het mnr. Victor Martins, energiedienstebestuurder by Eskom, gesê op ’n webinaar vir boere in Mpumalanga en Limpopo, waar hy werksaam is. “Noudat die energiereguleerder (Nersa) sy reëls vir private kragopwekking bekend gemaak het, is die verskillende selfopwekkingsopsies in die kragwaardeketting duidelik gedefinieer.
Dit wys ook vir verbruikers waar hulle tans ten opsigte van die reëls staan en wat hulle moet doen om seker te maak hul stelsels voldoen aan die vereistes.”