
Een van die belangrikste lesse wat die Suid-Afrikaanse landbou uit die oorlog in Oekraïne kan leer, is dat die wêreld se groot moondhede nie oorgehaal sit om in te gryp wanneer ’n groep of nasionaliteit se regte en lewe vertrap en bedreig word nie, sê mnr. Jaco Minnaar, voorsitter van Agri SA.
“Met die swaard van onteiening sonder vergoeding wat tot onlangs oor ons kop gehang het, was daar groot druk op Agri SA om steun in die buiteland te werf in die hoop dat die wêreld se sterk ekonomieë Suid-Afrikaanse boere te hulp sou snel indien die voorgestelde wetgewing werklikheid word,” het Minnaar op Mpumalanga Landbou se kongres by eManzana (Badplaas) gesê.
“Ons weet nou daar sal geen sulke hulp kom nie. Ons weet ook uit die regering se reaksie op die Russiese inval van Oekraïne dat die ANC se besluite eerder deur ou lojaliteite en ideologie gerig word as deur ’n sin vir menseregte.”
Minnaar het gesê hy stem saam met dr. Frans Cronjé van die sentrum vir risiko-ontleding (CRA) wat aan die kongres gesê het die skrif is aan die muur vir die regerende party.
Suid-Afrika is volgens Minnaar by ’n waterskeiding en Agri SA sien dit aan die desperate manier waarop die regering werkbare planne soek om die kwynende ekonomie te red en werk te skep.
“Dat dinge aan die verander is, is duidelik, en saam met verandering kom daar geleentheid vir goed georganiseerde strukture om hul agenda op die tafel te kry. Daarom praat ons nou met alle deelnemers in die politiek en die ekonomie, en ons beklemtoon die belangrikheid van die landbou.”
Beskerm uitvoer
Voedselsekerheid is ’n belangrike gesprekspunt in regeringskringe en hy het gewaarsku dat landbouleiers versigtig moet wees om die indruk te wek dat voedselsekerheid onder druk kan kom wanneer dit nie ’n werklike risiko is nie.
“Ons moenie as produsente en verwerkers met mekaar besig raak oor pryse en dan ‘voedselsekerheid’ skree in die hoop dat dit ons argument versterk nie. Dit is tans ’n gevoelige kwessie wêreldwyd en ons minister (van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling) sal nie huiwer om uitvoer stop te sit as sy meen dit is ’n risiko in Suid-Afrika nie.”
Meesterplan
Minnaar het gesê boere hoef nie die onsekerhede in die landboumeesterplan te vrees nie. Die plan is noodsaaklik vir ’n gesamentlike landboustrategie. Dit berus op konsensus en niks waartoe die hele bedryf nie instem nie, sal in die plan ingesluit word.
Arbeidsorganisasies het byvoorbeeld nie die plan onderteken nie, want die bedryf wou nie hul voorstelle aanvaar nie. Die doel is nie om een party, organisasie of groep se ideale te bevorder nie, maar om inklusiewe groei, mededingendheid en volhoubare transformasie moontlik te maak, het hy gesê.
“Kom ons veronderstel ons kry ’n koalisieregering in 2024. Dan het ons reeds ’n plan waartoe almal ingestem het, en ons as die landbou kan voortbou op wat ons begin het sonder dat ’n politieke oorgang ons meer raak as wat dit moet.”