
Dié sukkelende staatsinstelling ondervind sedert April 2020 likiditeitsprobleme en moet nuwe skuldterugbetalingsooreenkomste met sy leners beding. Maar die instellings wat aan hom geld voorgeskiet het, het daarop aangedring dat die Land Bank se geldsake eers onafhanklik hersien word voordat hulle begin onderhandel oor die oplossing wat die tesourie en die Land Bank aanbied.
Die proses om die onafhanklike hersiening te voltooi, sloer nou al 18 maande en in ’n onlangse verslag deur een van die skuldbriefhouers, Futuregrowth Batebestuur, skryf me. Olga Constantatos, hoof van krediet, dat die onafhanklike hersiening ’n “sleutelstuk van die legkaart is wat leners benodig om hul posisies te her-evalueer”.
Intussen kan die Land Bank, wat 28% van Suid-Afrika se landbouskuld hou, weens sy likiditeitsprobleme nie vanjaar krediet aan nuwe landboukliënte toestaan nie.
Twee terugbetalingspaaiemente is reeds gedoen en ’n derde sal na verwagting voor die einde van die jaar volg, het me. Rebecca Phalatse, die bank se kommunikasie-en-bemarkingsbestuurder, aan Business Day gesê.
Sy het gesê die Land Bank het sy uitstaande rente tot op datum gedelg. “Dit is ’n bewys van die Land Bank se verbintenis om saam met sy leners te werk om ’n oplossing vir sy aanspreeklikheid te vind. Die hersiening van die leningsboek sal na verwagting teen einde Oktober voltooi wees.”
Indien die leners tevrede is met die hersiening sal hulle ’n nuwe ooreenkoms aangaan en ’n nuwe kredietsiklus teen einde Maart 2022 open, berig Business Day. As die geld dan weer begin vloei, sal dit egter te laat wees vir produksiefinansiering vir die huidige somergraanoes.
In ’n normale boekjaar diens die bank sowat 4 200 kliënte regstreeks en die res deur sy tussengangers. Sy leningsboek het aan die einde van die boekjaar in Maart R36,9 miljard beloop waarvan ongeveer 60% (R22 miljard) direk deur die bank bestuur word, het Phalatse in ’n antwoord aan Landbouweekblad gesê.