
Jong boere in Suid-Afrika speel ’n noodsaaklike rol as ambassadeurs en toekomstige bewaarders van ’n beroep wat nie net die nasie voed nie, maar ook ’n pilaar is in die land se ekonomie en indiensnemingsektor, sê mnr. Duncan Currie, Oos-Kaapse Toyota Jongboer vir 2021.
“Jong boere help om die pad
vorentoe te navigeer deur kennis oor die generasies te kombineer met nuwe
idees, tegnologie en innovering wat die toekomstige landskap van die landbou in
Suid-Afrika vorm.”
Currie (41), van die Lindisfarne-boerdery tussen Cathcart en Hogsback, is op Agri Oos-Kaap se jaarkongres aangewys as die provinsie se Jongboer van die Jaar.
Currie bestuur ’n gemengde boerdery, bestaande uit skape (Merino’s en die Dormerstoetery Lindisfarne), vleisbeeste in ’n drierigting-kruisteling tussen Hereford, Angus en Korthoring vir die speenkalfmark, melkbeeste waarvan die melk gelewer word aan die Crickley Dairy in Queenstown en bloubessies onder die handelsmerk Hogsback Berries.
Currie boer al die afgelope 12 jaar in Suid-Afrika op die familieplaas nadat hy sewe jaar as ’n tegniese bestuurder in die sagtevrugtebedryf in Brittanje gewerk nadat hy die graad BTech in landboubestuur aan die landboukollege Saasveld in George verwerf het.
“Ek het grootgeword ’n generasieboerdery en boerdery is sedert my vroegste herinneringe ’n groot passie van my.”
Volgens Currie is dit ’n groot eer om vir die toekenning benoem te wees. “Dit dien nie net as erkenning vir myself nie, maar ook vir my familie, die werknemers saam met wie ek werk en die onmiddellike en groter boeregemeenskap wat my loopbaan tot dusver ondersteun het.”
Currie voeg by dat Suid-Afrika se veerkragtigheid in die aangesig van teenspoed hom opgewonde maak oor Suid-Afrika se landbou. “Wanneer probleme ons in die gesig staar, oorkom ons dit nie net nie, maar in baie gevalle omskep ons dit in geleenthede om te innoveer en vorentoe te beweeg. In ons boerderyberoep is ons deurlopend aan die leer en met die ondersteuning van die georganiseerde landbou word ons in baie gevalle leiers op die globale platform.”
Dit is ook vir hom opwindend dat baie leiers in Suid-Afrika nie net in ’n persoonlike belang in die landbou het nie, maar ook die belangrike rol wat die sektor speel om die land op te hef, erken.