
Talle Oos-Kaapse boere is by moedeloos verby oor die verval van paaie en infrastruktuur.
’n Ekonomiese wurggreep word op hul boerderye uitgeoefen. Mnr. Greg Miles boer op die plaas Bare Acres naby Stutterheim en sê hy weet nie of dit die hopelose onbevoegdheid van die regerende party of ’n set is om boere van hulle plase af te kry nie, want indien die verantwoordelike gesag oor die boere besorg was, sou iets al gedoen gewees het.
“Ons paaie is ’n nagmerrie, indien dit reën, kan ’n mens nie sonder ’n 4x4-voertuig oor die weg kom nie. Sonder behoorlike paaie is dit onmoontlik om sake te doen, want ons kan nie ons produkte by die markte kry nie.
"Ek is in die benarde posisie dat ek nie meer my rekeninge teen die einde van die maand kan betaal nie. Wat die owerheid nou aan die boere doen, is soos om van ’n winkeleienaar te verwag om sy deure te sluit, maar aan te hou met sake doen. Wanneer die boere te erg kla, word die paaie wel geskraap.
"Dit is egter dikwels ’n vergeefse poging, want daar word niks gedoen aan die dreinering nie en die padoppervlakte word nie gegruis nie,” sê Miles. Mnr. Marius Potgieter van die plaas N’Dimba naby Kouga sê die infrastruktuur val nou só uitmekaar dat hy nie meer weet hoe hy sy werk gedoen gaan kry nie.
Swak infrastruktuur
Gesteelde telefoonlyne word nie vervang nie en in groot gebiede word eenvoudig aanvaar dat die boere sonder landlyne moet klaarkom. Die paaie in sy omgewing is in só ’n slegte toestand dat dit gemiddeld 90 minute duur om 35 km na sy ander plase af te lê.
Volgens mnr. Russel Bowman, ’n voormalige voorsitter van die boerevereniging Bolo, kan die uiters swak toestand van die paaie toegeskryf word aan swak vakmanskap van die algemene onderhoud en instandhouding van paaie.
Die onderhoud van boere se voertuie is ’n groot probleem, met skokbrekers, buitebande en vellings wat gereeld in die slag bly. “Tot die taxi-bestuurders kla, want hul voertuie word op die paaie uitmekaar geskud en dan word hulle naby die dorp gestop en beboet vir allerlei onpadwaardighede,” sê Bowman.
11 April 2012