
Die Suid-Afrikaanse vereniging vir graan-en-oliesadehandelaars (Sacota) het verlede November gesprekke met Transnet-haweterminale (TPT) in Oos-Londen begin voer om dié hawe in te span vir die uitvoer van die groeiende mielieproduksie en die surplus voorraad wat die afgelope twee jaar opgehoop het. Vertragings in die Durban-hawe dwing graanuitvoerders om ander uitvoerroetes te vind.
Dr. André van der Vyver, uitvoerende direkteur van Sacota, sê die naweek is begin met die laai van die eerste besending mielie-uitvoer op ’n vragskip. Nog ’n vragskip sal binnekort aankom.
Van der Vyver sê danksy moderne produksietegnologie oorskry die gemiddelde groei in plaaslike mielieproduksie die afgelope 12 jaar die gemiddelde groei in vraag. Daarom is die vooruitsig vir die diepsee-uitvoer van Suid-Afrikaanse mielies gunstig.
“Die uitvoer van mielies is nie ’n eenmalige geleentheid nie. Suid-Afrika sal waarskynlik voortgaan om jaarliks mielies uit te voer. Dit kan geleenthede in die toekoms skep om weer die Oos-Londense hawe se uitvoerterminaal vir mielies te gebruik.”
Die Oos-Londense hawe het ’n graanhyser en ’n totale opbergingsvermoë van 76 000 ton in 83 silo’s. Dit is volgens Van der Vyver meer as voldoende.
Die Oos-Londense hawe het in die verlede ’n belangrike rol in die in- en uitvoer van graanprodukte gespeel. Tot in 2012 is die meeste witmielies deur dié hawe uitgevoer. Daarna het Durban-hawe egter dié uitvoer oorgeneem. Die Oos-Londense hawe, wat aanvanklik net vir uitvoer ingerig is, is opgeknap om voorsiening vir invoer te maak. Daarom kon 200 408 ton witmielies in 2017 gedurende die droogte deur die hawe ingevoer word.
Geleentheid, maar ook probleme
Hy waarsku dat ten spyte van die Oos-Londense hawe se relatiewe sukses vergeleke met Suid-Afrika se ander hawens, is daar verskeie langtermynprobleme by dié hawe, onder meer met toerusting, asook die voorsiening en ontvangs van produkte. Volgens hom sal dit nuwe beleggings noodsaak.
“Gelukkig is die private sektor gewillig om aan ’n gesamentlike onderneming deel te neem. Onder die lede van Sacota is daar dosyne multinasionale ondernemings wat logistieke en hawe-infrastruktuur reg oor die wêreld besit of huur. Met die regte geleenthede en samewerking met die regering sal hulle gewillige beleggingsvennote vir Suid-Afrika wees.”
Hy sê Suid-Afrika benodig nog ’n hawe vir die diepsee-uitvoer van graan. “Oos-Londen het die potensiaal daarvoor en kan in die proses ook die Oos-Kaap se ekonomiese potensiaal ontsluit. Elke vragskip mielies wat deur Oos-Londen beweeg, verdien sowat R200 miljoen in buitelandse valuta en is ’n inspuiting vir die plaaslike ekonomie.”
Hy sê die heropening van die Oos-Londense hawe is te danke aan die samewerking tussen Sacota, sy uitvoerlede en die TPT in Oos-Londen. “Dit is ’n noemenswaardige suksesverhaal en behoort te dien as ’n voorbeeld van wat vermag kan word as die openbare en private sektor saamwerk. Dink net wat nog vermag kan word met bykomende hulp en belegging van die regering en die private sektor.”