
Die Oos-Vrystaat moet tot 'n rampgebied verklaar word nadat meer as 100 000 ha weiding die afgelope tyd deur veldbrande vernietig is, meen die VP PLus.
Mnr. Wouter Wessels, VF Plus-lid van die provinsiale wetgewer, sê dié brande het 'n groot sosio-ekonomiese uitwerking op die plaaslike gemeenskap. “Om voedselsekerheid, werkskepping en landelike ontwikkeling te verseker, moet die Regering meer doen om hierdie tipe natuurrampe deur doeltreffende rampbestuur te voorkom, te beperk en na afloop daarvan vinniger voldoende rampverligting te bied,” sê hy.
Die DA in die Vrystaat het ook die moontlikheid van ramphulp aan boere ondersteun. Mnr. Roy Jankielsohn, DA-leier in die Vrystaatse wetgewer, sê dit is die Regering se plig om ramphulp aan boere in die Oos-Vrystaat beskikbaar te stel. Volgens Jankielsohn beplan die DA om binnekort vrae aan me. Mamiki Qabathe, die Vrystaatse landbou-LUR van landbou, te rig oor die Regering se rampbestuursdiens.
* Vroeër is berig dat dit oorweeg word om die munisipale gebied van Dihlabeng by Behlehem tot rampgebied te verklaar, nadat sowat 50 000 ha weiveld in ’n veldbrand verwoes is. Die brand het ten tye van ’n koue front en sterk winde oor die sentrale binneland oor die bestek van drie dae in die gebiede Clarens, Slabberts, Kaallaagte, Kransfontein en Daniëlsrus gewoed en is op 28 Augustus onder beheer gebring.
Vroeër het mnr. Malcolm Procter, ’n adjunk-direkteur van die Vrystaatse departement van landbou, bosbou en visserye, Vrystaatse grondeienaars gemaan om nie te gou hulle veld vir weidingsdoeleindes ná die winter af te brand nie en om altyd die weer in ag te neem.
Dit volg nadat sowat 200 000 ha weiveld al sedert die begin van die brandseisoen in Augustus vanjaar deur weghol-veldbrande oor die Vrystaat heen verwoes is. Procter sê meer as 345 000 ha veld is verlede jaar deur brande oor die provinsie heen verwoes.