
Eskom moet met opkomende boere saamwerk sodat hierdie boere ook kan baat vind by geleenthede soos son- en windenergie, het adj.pres. David Mabuza gesê.
Mabuza het in die nasionale vergadering die versekering gegee dat die staat sal voortgaan om ’n wye reeks oplossings vir hernubare energie vir die landbousektor te ondersoek. Hy het geantwoord op ’n vraag van me. Manketsi Thlape, ANC-LP, rakende wat die staat se planne is om kleinskaalse boere te help om die ongunstige effek van Eskom se onbetroubare energievoorsiening te versag om werkskepping te verwerklik, aangesien die nasionale ontwikkelingsplan voorsien dat die landbousektor die potensiaal het om ’n miljoen werksgeleenthede teen 2030 te skep.
Volgens mnr. Kulani Siweya, landbou-ekonoom van Agri SA, bestee die sektor tot R146 miljard per jaar aan intermediêre goedere en dienste, waarvan eleketrisiteit meer as R7 miljard uitmaak. Met die tekort aan stabiele elektrisiteitsvoorsiening bestaan daar ’n risiko met verloop van tyd vir voedselsekerheid en kospryse aangesien meer as 25% van Suid-Afrika se kos geproduseer word deur energie-intensiewe bedrywe en besproeiing.
Mabuza het gesê dat groei in die kleinskaalse landbou nie bereik sal word sonder toegang tot ondersteuningsdienste nie, insluitend die aanpak van die probleme wat die onstabiliteit van eletrisiteitsvoorsiening veroorsaak. “Verhoogde landbouproduktiwiteit verg dat ons die gepaardgaande probleme gesamentlik moet aanpak en op lang termyn voedselsekerheid, werksgeleentheide en volhoubare inkomste skep.”
Mabuza het verder uitgewys dat die covid-19-ramphulpfonds van R1,2 miljard wat in 2020 aan die landbousektor bewillig is om volhoubare voedselproduksie te verseker, nie spesifiek konsentreer op hernubare energie nie.
Die landbousektor is egter nie uitgesluit by die onlangse ingrypings wat energie-opwekking van tot 100 MW deur die private sektor of munisipaliteite sonder ’n lisensie toelaat nie.