
Slegs 8,5% van plaaswerkers in die Wes-Kaap kan matriek agter hul name skryf. Dit is een van die onrusbarende bevindings uit die onlangse provinsiale huishoudelike sensus van agriwerkers. Plaaswerkers met tersiêre opleiding is net 0,002%.
“Die swak gehalte van ons plaaskinders se opleiding en werkloosheid onder die jeug is ’n groot bekommernis. As ons dit nie binne vyf jaar aanroer nie, gaan dit ons oor tien, 15 jaar steeds kom byt,” het mnr. Danie Niemand, direkteur van plaaswerkerontwikkeling by die departement van landbou, tydens Agri Wes-Kaap se jaarkongres op Goudini gesê.
Die sensus het 42 982 mense (11 028 huishoudings) op altesaam 2 991 plase bereik. Dit gee ’n goeie idee van landbouwerkers en hul huishoudings se sosio-maatskaplike omstandighede. Altesaam 61% van die provinsie se plaaswerkers het vaste werk, terwyl 19% werkloos is. Die oorblywende 20% het tydelike of seisoenale werk.
Bywoning te laag
“Die lae matrikulasiekoers hou regstreeks verband met die vroeë uitvalsyfer van leerders in skole in die landelike gebiede. Op die oomblik is daar ’n baie klein, of bykans geen, vangnet om hierdie leerders by te staan nie.”
Die Weskus-streek, gevolg deur die Kaapse Wynlande en die Eden-distrik is die gebiede waar kinders nie geredelik skool bywoon nie. “Die grootste bekommernis is die redes wat hulle hiervoor aangevoer het, want op ’n provinsiale vlak het meer as 26% gesê dis omdat hulle nie wil leer nie. Ons sal dit moet omdraai,” het Niemand gesê.
Altesaam 23,2% het aangedui daar is nie geld vir skoolfooie nie en 10,5% woon nie skool by nie omdat hulle swanger is. Sowat 10% het gevoel opvoeding is nutteloos. “Daar is ook ander goed, soos vervoer en skoolfooie wat ons moet aanroer.”
Werkloosheid kritiek
Volgens Niemand sal werkloosheid onder die jeug “kritieke brandpunte” wees oor die volgende 15 jaar, want die sensus het getoon dat meer as 34% mense die arbeidsmark binne hierdie tydperk gaan betree, maar net 12,6% van werknemers gaan dit in hierdie tyd verlaat.
Die grootste persentasie plaaswerkers is tussen 19 en 34 jaar oud. “ ’n Klomp van die jong plaaswerkers lê op die vlak van algemene werker, maar daar is ’n geweldige behoefte aan bepaalde vaardigheidsopleiding.”
Behuising beter op plase
Die sensus het ook aspekte soos behuising en gesondheid ondersoek. Sowat 78% van werkers bly op plase; dis net in Stellenbosch waar dit omtrent die helfte is, omdat die plase redelik naby aan die dorp geleë is.
“Werkers wat op die plaas woon is in ’n baie beter posisie as diegene wat van die plaas af bly.” Die data dui daarop dat 67% van werkers op plase in baksteenhuise bly, terwyl die meerderheid van plaaswerkers wat op dorpe woon, in informele strukture bly.
“Bykans 80% van die plaasbewoners het pypwater, 97% het elektrisiteit en 88% het spoeltoilette in hul huise of net buitekant die huis. Hierdie syfers vergelyk beter as die Wes-Kaap se gemiddeld en ook baie beter as die nasionale gemiddeld,” sê Niemand.
Volgens hom het die onlangse loonverhogings eintlik plaaswerkers se posisie verswak. ’n Gemiddelde plaaswerker-huishouding bestee sowat R1 800 tot R2 500 per maand. Die Kaapse Wynlande het die hoogste huishoudelike besteding van al die streke. “Hoewel die lone meer is, kom hulle nie meer in aanmerking vir basiese subsidies wat die staat bied nie. Hulle is dus eintlik in ’n slegter situasie as vier, vyf jaar gelede.” Die algemeenste gesondheidsprobleem waaroor plaaswerkers kla is swak visie.
“Dit kan wees dat hy ’n bril kort, en dis ’n vinnige oplossing, maar dit kan ook as gevolg van alkoholmisbruik op ’n vorm van diabetes wees, wat dit meer ingewikkeld maak.” ’n Tweede fase van die sensus sal binnekort aangepak word.