
Die omvang waartoe die wyn- en brandewynbedryf werknemers oplei en vaardighede ontwikkel, kan nou bepaal word danksy 'n nuwe intydse Leederbestuurstelsel (LMS) wat onlangs bekend gestel is.
Alle vordering met opleiding en ontwikkeling – van plaaswerker tot bestuursvlak – word nou op die internetgebaseerde LMS vasgevang. Dit word deur die nuwe Leer- en Ontwikkelingstoonbank by Winetech bestuur.
Die LMS stel opleidingsinstansies in staat om hul dienste te adverteer. Wynprodusente en -kelders kan die LMS gebruik om opleidingsdiensverskaffers op te spoor en geleenthede vir leer en ontwikkeling te identifiseer.
Opleidingsinstansies kan kwalifikasiebewyse op die stelsel laai soos mense opgelei word – dit roer die probleem aan van werkers van opleiding ontvang het, maar nie oor die bewyse van hul opleiding, kwalifikasies of diensrekords beskik nie. Leerders kan ook op die stelsel inteken om hul opgedateerde CV en kwalifikasie-dokumentasie te kry.
Volgens me. Kachné Ross, ’n leer- en ontwikkelingsbestuurder by Winetech, sal die projek momentum gee aan talentontwikkeling in die wyn- en brandewynbedryf. Dit pas goed by die bedrywe se strewe om voorkeur-werkgewer vir talentvolle mense te wees.
“Wynprodusente en -kelders lei al jare lank mense op, maar die mate waartoe die bedryf dit doen, was tot dusver onbekend. Hulle was tot dusver nie in staat om die effek van hierdie groei en die waarde wat dit tot die wynbedryf toevoeg, te meet nie. Dit beteken ook dat hulle nie hul beleggingsopbrengs kan verbeter nie.”
Sowat 275 000 mense is in 2015 deur die wynbedryf in diens geneem. Die bedryf se strategiese Wise-plan streef egter daarna om dié syfer teen 2025 tot 375 000 te lig.
Luidens die plan sal die ontwikkeling van menslike kapitaal 'n rol kan speel om volhoubaarheid, mededingendheid en robuustheid in die bedryf te bevorder. Besoek die LMS by www.sawineandbrandylms.info.