
Sanral se aankondiging is veral verwelkom in landboukringe, wat al lankal voorbrand vir dié stap maak.
Die nuus oor die oorname van die vervalle R31-roete wat veral deur swaarvoertuie gebruik word om landbou- en mynbouprodukte te vervoer, is wyd verwelkom. Landbouweg in Kimberley, wat deel is van die R31, is ook ingesluit. Die volgende roetes word oorgeneem:
- R31 vanaf Santoy tot in Kuruman, van Kuruman na Daniëlskuil tot by die aansluiting met die R385, vandaar verby Delportshoop, deur Barkly-Wes na Kimberley.
- ’n Gedeelte van Oliverstraat in Kimberley waar dit by die N8 aansluit.
- R380 van Santoy tot by McCarthy’s Rest.
- R325 van Postmasburg tot waar dit by die N14 aansluit.
- R385 van Daniëlskuil tot Postmasburg.
- R58 van Colesberg tot by Norvalspont.
- R382 van Alexanderbaai deur Port Nolloth tot by Steinkopf.
- R48 van Philipstown tot Petrusville tot waar dit aansluit by die R369.
- R389 van Hanover tot Philipstown.
- R369 van Hopetown tot by die aansluiting met die R48.
Volgens mnr. Nicol Jansen, voorsitter Agri Noord-Kaap, sal die landbousektor gewis baat vind by beter padinstandhouding. Paaie is onder erge druk vanweë mynbou-grondstowwe wat padlangs vervoer word.
Voorspraak
“Agri Noord-Kaap het meer as ’n jaar gelede begin om voorspraak hiervoor te maak. Grondstowwe soos mangaan van Noord-Kaapse myne vind meestal hul weg padlangs na die Oos-Kaapse hawens vir uitvoer na China. Ystererts van Kumba se myne word op Transnet se spoorlyn van Sishen tot Saldanha op die Wes-Kus vervoer.”
Hy sê Sanral kan die paaie beter onderhou as die provinsiale departement van paaie en openbare werke wat begrotingstekorte ondervind en ook nie voldoende kapasiteit het nie. Hul begroting krimp jaarliks, terwyl sowat 22 000 km grondpaaie in stand gehou moet word. “Die meeste van die paaie moet weer ’n gruislaag kry, want dit is onvoldoende om dit net te skraap.
“Daar is voortdurende mededinging tussen die landbou en mynbou oor hulpbronne soos grond en water, maar ook vir hawe-kapasiteit en paaie. Die mynbou beleef tans ’n oplewing en die vele vragmotors plaas enorme druk op infrastruktuur. Die R31-roete is ’n smal pad en nie geskik om die volume en gewig van vragmotors te dra nie. Dieselfde geld die R369 van Hopetown na die Havengabrug, en die R48 en R389 via Petrusville en Philipstown na Hanover.
“Die landbousektor word aansienlik benadeel omdat die teerpaaie ongelooflik agteruitgaan het. Dit is lewensgevaarlik vir motoriste en boere wat die paaie daagliks moet gebruik.”
Hy sê hulle praat met Sanral sodat die swakste padgedeeltes geprioritiseer word vir instandhouding.
“Die ander kwelling is die R380- en R887-grondpad van Santoy na McCarthy’s Rest. Sanral het nie die vermoë om grondpaaie te onderhou nie. Die provinsiale departement wat gewoonlik die pad skraap en in stand hou, het nou opgehou om te doen. ’n Tussentydse oplossing is nodig totdat ’n begroting gevind word om die pad te teer.”
Die R382 van Steinkopf na Alexanderbaai is ’n nuwe strategiese roete vir die Boegoebaaihawe-ontwikkeling, wat uitvoerboere bevoordeel. Sasol gaan ’n groen waterstof-aanleg in die spesiale ekonomiese sone in dieselfde omgewing bou.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.