
Nat toestande is tot dusver die somer druiweprodusente langs die Oranjerivier se grootste kopseer, maar die rivier se stygende vlakke raak ’n ál groter risiko.
“Tot dusver het die hoë vlakke nog nie ’n groot impak op produsente gehad nie, aangesien die meeste keerwalle die water weghou,” sê mnr. André Agenbag, ’n wingerdkundige by Oranjerivier-wynkelder.
Me. Bekkie van Aarde, bestuurder van inligting en kommunikasie by Raisins SA, beaam dat die hoë watervlakke tot dusver nog nie produksie geraak het nie.
“Die probleem is dat die keerwalle nie gemaak is om langdurige hoogwater te keer nie. Die walle kalwe weg as die rivier so lank soos vanjaar in vloed bly.”
Sy sê die rosyntjiebedryf het in 2021 ’n 20%-verlies aangeteken weens soortgelyke toestande.
Volgens Agenbag word ’n minimum van 3 500 m3/s en selfs hoër vloei later vandeesweek verwag aangesien die damme in die Oranjerivier vol is. Dit is hoër as die 3 000 m3/s wat verlede jaar gemeet is. (lees hier oor die verwagte styging in watervlakke in die Oranjerivier)
“Die probleem word egter vergroot met die reën wat
in die opvangsgebiede val en bydra tot die hoë watervlakke. Aangesien die
meeste wyn- en rosyntjieprodusente na aan die oewer van die rivier is, hou dit
’n groot risiko in.”
Hy sê keerwalle kan die stygende vlakke vir kort tydperke hanteer, maar op langer termyn raak die walle sag namate dit water opneem en dan kan dit ingee. As die keerwalle breek, is baie wingerde onder water en sal die druiwe nie geoes kan word nie.
Van Aarde sê egter rosyntjieprodusente behoort nog veilig te wees selfs as die water met nog ’n meter styg. Omdat die verskillende kultivars op verskillende rypheidsgrade is, sal dit nie ’n totale fiasko wees nie.
Nog ’n probleem vir produsente is dat verskeie laagwaterbrûe wat toegang bied tot druiwe wat op eilande geoes moet word, kan oorstroom, sê Agenbag. “As die water nog hoër styg, kan toegang tot van die eilande afgesny word.”
Natter toestande
Volgens Agenbag veroorsaak die reën ’n verskeidenheid siektes waarvan witroes en donsige skimmel die grootste kopseer is. Botritis is nog ’n probleem in nat toestande, wat die gehalte van wyn- en rosyntjies beïnvloed.
Van Aarde voeg by dat die druiwe bestem vir rosyne tot nou nog suur was. Die natter toestande het nog nie ’n groot impak op die druiwe gehad nie. Die reën wat tot dusver geval het, was tydens periodes toe die suikervlak nie so hoog was nie.
“Hoe soeter die druiwe, en dus hoe hoër die suikervlak is, kan die nat, vogtige toestande veroorsaak dat die druiwekorrels bars en dan kan swamsiektes ’n beter vatkans op die druiwe kry, wat die gehalte van die produk benadeel.”
Sy sê produsente moet egter teen bykomende koste stappe doen om swamsiektes te bestuur.
Oestyd
Die aanvang van die oestyd langs die Oranjerivier is vanjaar ongeveer twee weke later as verlede jaar, maar volgens Agenbag het van die wyn- en rosyntjieprodusente met vroeë kultivars reeds begin oes.
“Die tafeldruiweprodusente was ook laat en het baie meer probleme met reën tot dusver beleef, aangesien die tafeldruiwe vroeër geoes word as die wyn- en rosyntjiedruiwe.”
Hy voeg egter by dat die tafeldruiweprodusente nie so ’n groot risiko ervaar met die stygende riviervlakke nie, aangesien die meeste van hul wingerde verder van die rivieroewer is.
Volgens Van Aarde het die oestyd van rosyntjies in die Oranjerivier-streek grotendeels vandeesweek begin, met die tafeldruifoes wat al ver gevorder is.