
Me. Reinet Meyer, senior inspekteur van die Bloemfonteinse DBV, sê die organisasie is sedert Sondagoggend op die toneel en het reeds 586 diere uit die slik gered. “Ons gaan vandag terug om seker te maak dat daar nie nog diere êrens in die slik vasgekeer is en hulp nodig het nie.”
Veral die informele gemeenskappe rondom Jagersfontein is ernstig deur die oorstroming getref. Inwoners wat honde, katte en veral hoenders in hul agterplase aangehou het, het skade gely. “Dit is veral die hoenders wat swaar kry. Ons het al hierdie diere na die DBV in Bloemfontein geneem, hulle gewas en hulle daar skuiling gebied.
“Ons plaaslike veearts, dr. Colleen Gilfillan, ondersoek elke dier wat inkom, om beserings te identifiseer en te behandel. Wat my veral getref het, was dat daar onder meer beeskrale en varkhokke reg onder die damwal was voor die ramp. Ons kry nie eens hierdie diere se karkasse nie – hulle is net eenvoudig weg.”
Sy benadruk dat die verlies van vee ‘n groot maatskaplike kwessie vir inwoners rondom Jagersfontein inhou. “Hierdie is mense wat eintlik niks het nie, slegs ’n paar beeste, varke of bokke om hul huishoudings mee aan die gang te hou. Nou is daar karige inkomste ook weg. Ek kry hulle uit die diepte van my hart jammer.”
Sy sê die reddingspoging van diere is ’n gesamentelike projek, met die samewerking van onder meer die DBV in Welkom en Virginia wat ook hulp kom verleen het. “Die diere is toe onder die modder, wat beteken dat hulle herhaaldelik gebad moet word. Dit is ’n groot proses.”
Intussen is daar steeds nood wat kos vir diere aanbetref. “Dit is nie net honde- en katkos nie, maar ons benodig groot hoeveelhede lusern of eragrostis om bokke en beeste te help voer.”
Intussen is die volgende groot kommer siektes wat weens die ontbinding van dierekarkasse onder die modder kan uitbreek. “Daar is talle diere onder die modder begrawe en hul karkasse gaan begin ontbind. Ons is ook juis nou op pad om met die plaaslike gemeenskap te vergader om die situasie verder te bespreek.”
Meyer sê die grootskaalse besoedeling van die plaaslike rivier, gaan boere verder stroomaf beïnvloed. “Boere is afhanklik van die rivier en omdat dit standhoudend is, is daar nie veel boorgate om water vir hul diere te verskaf nie. Daar is wel begin om water aan te ry, maar dit is ’n ernstige kwessie om te verseker dat daar genoeg water vir mense en diere is.”
Meyer sê die diere wat gered is, word by die Bloemfonteinse DBV gehou, maar sal mettertyd teruggebring word sodat mense hulle diere kan terugkry. “Dit is ’n moeilike situasie. Die huise waar hierdie diere aangehou is, is weg. Ons eerste prioriteit was om hierdie diere na veiligheid te bring en hulle skoon te maak. Ons sal sodra die situasie onder beheer is, die diere terugbring, en dan sal hulle eienaars hulle hopelik kan uitken.”
Diegene wat graag ’n donasie aan die Bloemfonteinse DBV wil maak, kan die organisasie se webblad besoek, of ’n R30-donasie deur SMS maak. Donasies kan gemaak word deur die woord Bloemspca na 42646 te stuur.
Verskeie organisasies, insluitende Gift of the Givers, was ook op die toneel om mense se nood te help verlig, sê Meyer.
Afriforum stig rampfonds
Die burgerregte-organisasie AfriForum het ook ’n rampfonds op die been gebring om die inwoners van Jagersfontein by te staan. Die fonds is met die samewerking van Saai gestig om die gemeenskap en boere by te staan.
“Dit is belangrik dat ons die gemeenskap in hul tyd van nood ondersteun. Benewens ander lede van die gemeenskap wat reeds hulp uit verskeie oorde ontvang, moet ons boere se verliese nie gering ag nie. Weiding is in baie areas totaal oorstroom en daarom is een van ons prioriteite om veevoer te help verskaf,” sê mnr. Corné Cronjé, bestuurder van gemeenskapstukture vir AfriForum.
“AfriForum het reeds vanaf Sondag lugbystand met soek-en-reddingpogings gebied deur twee hommeltuie te ontplooi. AfriForum-buurtwagte se hommeltuigvlieëniers was ook instrumenteel om lugfoto’s van die betrokke area te neem en veilige landingsones aan helikoptervlieëniers uit te wys en te beman.”
Skenkings kan aan die volgende rekening oorbetaal word.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.