Hoewel verskeie streke langs die Kaapse kus onder oorstromings deurloop, is die Overberg se boere dankbaar vir die reën. Luidens ’n verklaring het tot 70 mm reën in die streek geval.
Mnr. Schalk Viljoen, Graan SA se streeksbestuurslid vir die Overberg en die Suid-Kaap, het sowat 10 mm op sy plaas gekry en op Riviersonderend het omtrent 20 mm geval.
“Die graan lyk goed, hoewel ons weens die reën sukkel om met die spuite in die lande te kom,” sê Viljoen. In die distrik Caledon is sowat 18 mm reën aangeteken.
Welkome 70 mm
Mnr. Thys Delport, voorsitter van die Caledon-Noord-landbouvereniging, sê 70 mm reën het by hulle geval. “Chemikalieë wat op graan gespuit is, is ná die reën ondoeltreffend, maar die koue en nattigheid is nodig, want damme loop nou weer vol.”
Mnr. Danie van Zyl, voorsitter van die Babilonstoring-landbouvereniging in die Hemel-en-Aardevallei, sê hulle sal nog reën verwelkom. Sowat 27 mm is by Van Zyl gemeet.
Hy sê hulle het vroeër tussen 60 mm en 70 mm aangeteken. “Verdere reën word egter verwelkom aangesien damme nog baie leeg is.”
Geen vloedskade
Luidens die verklaring is geen vloedskade in enige van dié streke aangemeld nie.
Die Theewaterskloofdam naby Villiersdorp se watervlak het van 51% op 1 Mei tot 76% op Maandag 4 Julie gestyg ná goeie reën in dié opvangsgebied die afgelope maand.
Intussen sê mnr. Willie du Plessis, ’n melkboer in die Tsitsikamma-vallei, dit is baie nat by hulle. “Die afgelope ses maande het ons al meer as 900 mm gemeet. Dit is wat ons gewoonlik in ’n jaar kry. Ek is egter nie bewus van enige vloedskade nie.”
Mnr. Andre de Wit, voorsitter van die Langkloof-boerevereniging, sê hulle het die afgelope week sowat 20 mm reën gehad.
Lees ook: Overberg geskok deur plaasaanvalle.
6 Julie 2011