Die brand wat sedert Donderdag (12 Januarie 2012) naby Swellendam woed, sal hopelik teen vanaand (16 Januarie 2012) onder beheer wees.
Mnr. Reinard Geldenhuys, brandweerhoof by die Overberg-distriksmunisipaliteit, sê tot dusver het die brand nog nie enige landbougrond bedreig nie.
“Dis nog meestal fynbos en plantasies wat beskadig is. Die brand woed tans in die berg, maar as dit verder buite beheer raak, kan dit na Barrydale toe versprei waar landbougrond in die slag kan bly,” verduidelik Geldenhuys.
40 brandweermanne
Geldenhuys sê intussen is 40 brandweermanne besig om die brand te probeer blus. “Dit brand nou in een lyn bo-op die berg. As die wind en ander weerstoestande dieselfde bly, sal die span hopelik daarin slaag om die brand teen vanaand onder beheer te kry.”
Geldenhuys sê tans weet hulle waar die brand ontstaan het, maar hulle is nie seker wat dit veroorsaak het nie. Dit sal verder ondersoek word.
Die brand het ook dele van die Marloth-natuurreservaat beskadig.
16 Januarie 2012