Die Batebeslagleggingseenheid (AFU) het onlangs beslag gelê op twee plase in KwaZulu-Natal, wat by ’n ondersoek na beweerde korrupsie en bedrog betrek is. Die Departement van Landelike Ontwikkeling het dié stap verwelkom.
Luidens ’n verklaring vorm dít deel van ’n ondersoek waarin drie departementele beamptes en ’n sakeman verlede maand in Pietermaritzburg aangekeer is.
Dié groep is in hegtenis geneem op aanklagte wat verband hou met beweerde onreëlmatighede rakende die toekenning van grondhervormingstoelaes van sowat R36 miljoen aan begunstigdes.
Samewerking
Na aanleiding van aanvanklike ondersoeke deur die Onafhanklike Ondersoekeenheid met behulp van die departement, het Minister Gugile Nkwinti besluit om dié ondersoeke uit te brei en het hy behoorlike hulp aan die eenheid beloof sodat die ondersoeke ongehinderd kan voortgaan.
’n Volledige ondersoek, waarvoor die minister en die eenheid President Jacob Zuma genader het, is in die Staatskoerant van 18 Februarie 2011 geproklameer.
“Die rede hoekom ons die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming op die been gebring het, was om ’n beter lewe vir ons mense in die landelike gebiede te skep en ons visie maak dit duidelik.
"Die meeste van die mense is van die armstes van die armes in ons land. Hulle maak staat op dienste en ondersteuning van ‘n regering wat omgee. Om van die staat se hulpbronne wat vir dié arm mense eenkant gesit is, te steel, is soos om van die arme mense self te steel. It is sickening, if not sinful!”, aldus Nkwinti.
Moratorium op alle aankope
Intussen sê die Demokratiese Alliansie ’n moratorium moet op alle aankope van plase vir grondhervorming geplaas word totdat alle ondersoeke afgehandel is, en ’n verslag meer duidelikheid oor die omvang van bedrog en korrupsie in die departement kan gee.
Me. Annette Steyn, die party se woordvoerder vir grondsake, sê dit is nie duidelik hoeveel sulke ondersoeke tans voorkom nie, maar sy weet dit kom in ander provinsies ook voor.
Skuil agter databasis-leemte
Steyn sê die grootste probleem wat aanleiding gee tot bedrog en korrupsie in dié departement is dat hulle nie ’n databasis het van hoeveel plase al waar gekoop is en teen watter prys nie.
“Die ontbreking van ’n behoorlike databasis kan die rede vir die misdade wees, en die departement kruip weg agter dié feit”, aldus Steyn.
Die minister vra intussen dat enigeen wat van bedrog of korrupsie weet, die eenheid by 0860 748 748 moet bel. Alle oproepe sal met uiterste vertroulikheid hanteer word.
14 Maart 2011