
Te danke aan dié maatreëls, wat tot dusver grootliks deur die plaaslike boeregemeenskap gefinansier is, het die dorp nog nie ’n enkele voorval van Covid-19 aangemeld nie.
Die padblokkade, ’n inisiatief deur die gemeenskap, beheer toegang tot die dorp, terwyl verskeie organisasies in die gemeenskap verligtingsaksies in die dorp koördineer, onder meer die verskaffing van voedsel aan haweloses, die bemanning van noodlyne, toetsing vir moontlike gevalle van die koronavirus en die oprigting van ekstra mediese isolasiegeriewe.
Onder leiding van organisasies soos die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en Action for Community Transformation Citrusdal (ACT), in samewerking met plaaslike owerhede, is die dorp tot ’n vlak van gereedheid omskep wat deur die plaaslike polisiebevelvoerder, kol. Mongezi Mathembu, as “buitengewoon” bestempel is.
Mnr. Louis Röntgen, voorsitter van die GPF, sê ’n klomp werksgeleenthede het uit die plaaslike ekonomie verdwyn toe die pandemie toegeslaan het. “Die boeregemeenskap het ingetree met skenkings van meer as R300 000, asook voortgesette steun. Sonder hul vrywillige hulp en finansiering sou bitter min van hierdie verligtingsprojekte moontlik gewees het.”
Die boere en plaaslike besighede se skenkings word bestuur deur Citrusdal se Covid-19-fonds, wat deur die ACT bestuur word. Die fonds finansier ’n verskeidenheid welsyns-, polisiërings- en gesondheidsprojekte met die samewerking van die plaaslike munisipaliteit, die SA Polisiediens en 90 vrywilligers.
Danksy hierdie skenkings kon die ACT reeds meer as 6 000 maaltye aan 40 mense in die skuiling vir haweloses verskaf en duisend kospakkies na behoeftige huishoudings versprei.
Mnr. Sarel Eloff, ACT-voorsitter, en sy span vrywilligers word ondersteun deur die plaaslike gemeenskap en besighede wat daagliks bakkievragte vars vrugte, groente en huishoudelike ware aflewer wat in kleiner pakkies verpak word.
’n Sopkombuis, die inisiatief van me. Katrina Owies wat deur me. Elserine Schutte gekoördineer word, is op die been gebring danksy die vrygewigheid van plaaslike boere wat daagliks vars bestanddele daarvoor aflewer.
Röntgen sê die dorp se huidige virusvrye status is grootliks die gevolg van die suksesvolle beheer van mensebewegings. “Die sitrusbedryf is arbeidsintensief. Plaaslike boere het seisoenale werkers nodig om hul eie werkmag aan te vul, wat ’n risiko inhou. Die risiko is natuurlik minder as hulle eerder spanne op ’n beheerde manier kan inbring as wat werkers die dorp binnekom, blyplek kry en dan begin werk soek.”
Hy sê die dorp verskaf tot 20 000 seisoenale werkgeleenthede per seisoen, van einde Maart tot middel November. “Hierdie werkers stuur geld terug na hul families. Daarom is dit vir baie mense belangrik dat hulle gesond bly en aanhou geld verdien. Dis ons plig om hulle en die plaaslike werksmag te beskerm. Dit is ons grootste bates.
“Die pakhuise in die vallei bedien verskeie produsente. As jy ’n uitbreking van die virus in een van hulle het, kan dit produksie in die vallei en ’n hele ekonomie van afhanklikes kwaai raak.”
Die polisie beman die padblokkade 24 uur per dag. Mense probeer dit wel omseil en deur die Olifantsrivier die dorp binnekom, maar ’n private sekuriteitsmaatskappy doen vierwielpatrollies langs die rivier om onbeheerde vloei na die dorp te verhoed.
Röntgen sê die maatreëls is nodig om die dorp se bates te beskerm en voortgesette werksgeleenthede vir inwoners te verseker. “Dit is wonderlik om te sien hoe die gemeenskap saamwerk, van geldinsameling tot die boeregemeenskap se bystand aan die polisie en die munisipaliteit, om die vallei virusvry te hou. Ek het in 45 jaar nog nooit hierdie gemeenskap sien saamwerk op hierdie vlak nie, ongeag agtergrond of politieke affiliasie.”
Kliek hier vir 'n video.
Landbouweekblad is steeds beskikbaar op winkelrakke, terwyl sake by https://t.co/J5CsarOmv3 en @landbouweekliks vlot verloop. Lees hier wat jou te doen staan indien jy sukkel om die tydskrif in die hande te kry én hoe jy digitaal kan lees. https://t.co/Ug6tJEMNfl
— landbou.com (@landbou) May 12, 2020