
As dringende herstelwerk nie binnekort by die Landboukollege Potchefstroom begin nie, kan regsoptrede volg, sê AfriForum Jeug.
Luidens ’n mediaverklaring het die organisasie besluit om die kollege ’n maand kanste gee om ’n volledige herstelplan in te dien en dringende herstelwerk te onderneem om regsoptrede te vermy.
Die organisasie het die kollege Maandag (6 Februarie 2012) besoek om vordering met herstelwerk te monitor. Die eerste ondersoek oor toestande op die kampus is op 9 Desember 2010 onderneem.
Dié onlangse ondersoek is onderneem sowat ’n jaar ná mnr. Franklin Jackson, ’n onafhanklike beroeps-en-veiligheidskonsultant, ’n verslag oor probleme en herstelwerk wat gedoen moet word, aan die organisasie en die kollege oorhandig het.
Weggejaag
Mnr. Ian Cameron, woordvoerder vir die organisasie, sê hy en Jackson is Maandag deur die kollegebestuur van die kampus af weggejaag. Die kollege se bestuur was duidelik aggressief en het geweier dat Jackson die koshuiskombuis binnegaan.”
Die bestuur, wat verlede jaar aangedui het dat ’n onderhoudsplan vir herstelwerk saamgestel sou word, kon glo nie so ’n plan aan Cameron oorhandig nie, en hulle het ook geweier om die uitslag van die ondersoek deur Jackson te erken.
Van die probleme wat Cameron uitwys, is stukkende vensters wat nie herstel word nie, storte sonder stortkoppe, elektriese kabels wat nie bedek is nie, stukkende plafonne, kragbokse wat nie kan toemaak nie, ’n gebrek aan nooduitgangtekens en beskadigde of vermiste brandbestrydingstoerusting. Geen noodhulpkissies is in koshuise beskikbaar nie, rioolpype is stukkend en riool loop teen koshuise se mure af.
Staak
Cameron sê het die South Africa Students Congress (SASCO) Donderdag (9 Februarie 2012), op die kampus begin staak weens die swak toestande.
Die bestuur, asook die LUR vir landbou in Noordwes, moet verantwoordelikheid aanvaar vir die agteruitgang van die kollege. Die toekoms van talle toekomstige voedselverskaffers word weens swak bestuur vernietig. Die gesondheids- en veiligheidrisiko’s is eenvoudig onaanvaarbaar vir ’n kollege wat alles tot sy beskikking het om ’n trotse tersiêre instansie te wees,” aldus Cameron.
Jackson se verslag is by dié berig aangeheg. Vergelyk gerus ook die foto’s wat Jackson die afgelope week op die kampus geneem het, en die foto’s wat Landbou.com in 2010 op ’n besoek aan die kampus geneem het. -
10 Februarie 2012