
Die berugte Panamasiekte (tropiese ras 4) wat reeds onder duisende hektare piesangs in Suidoos-Asië gemaai het, is in Jordanië en Mosambiek aangemeld.
Volgens die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) hou die siekte ’n ernstige gevaar vir die produksie en uitvoer van piesangs in, wat die vierde belangrikste voedselgewas vir die wêreld se minder ontwikkelde lande en ’n belangrike bron van inkomste vir arm boere is.
Die siekte beïnvloed die bome, maar nie die piesangs self nie en die enigste oplossing is om die bome af te kap, loopgrawe tussen die bome te grawe om verspreiding van die siekte te keer en streng kwarantynmaatreëls toe te pas.
Vername produsente in Latyns-Amerika, asook Ecuador, die wêreld se grootste produsent, is tot dusver nie beïnvloed nie, maar die FAO het oor moontlike risiko’s gemaan.
“Dis nie ’n kwessie van óf dit ons gaan tref nie, maar wánneer,” aldus Gert Kema, direkteur van die piesang-navorsingsprogram by Wageningen-universiteit in Nederland. Kema sê die beskikbaarheid van piesangs in Europa en Amerika is nie deur die siekte geraak nie, omdat die vernaamste verskaffers in Latyns-Amerika is en die ekonomiese impak veral op Asië gefokus het.
Huiwering grootste dilemma
Volgens Kema is huiwerigheid in die bedryf om die impak in te sien, die grootste dilemma, asook die oormatige vertroue in die Cavendish-variëteit. “Hoe gouer ons plaasvervangers vir Cavendish kry wat bestand is teen Panama, hoe beter, maar dit gaan jare duur,” het hy gesê, en gewaarsku dat daar 'n risiko is dat foute wat gedurende die 1950-epidemie begaan is, herhaal kan word.
’n Kenner van plantsiektes by die FAO het gemaan dat lande nou moet reageer om ’n nagmerrie-scenario te voorkom, wat “op ’n omvangryke vernietiging van die wêreld se piesangoes” sal neerkom. Dit sal veral ’n nadelige uitwerking op streekmarkte in Asië hê, “want TR4 kom daar wydverspreid voor, met gevolglike implikasies wat voorraad en prys aanbetref".
Die swam kan vir dekades lewensvatbaar bly en voorkoming behels onder meer maatreëls om die vervoer van besmette grond en plantmateriaal na en van plase te verhoed.
Bron: Sowetan Live.