Papiermeulens oor Europa heen word gesluit, verkoop, verminder produksie of slaan oor na meer winsgewende produkte as grafiese papier vir die drukkersbedryf.
Dit beteken ook die produksiekoste van gedrukte weergawes van tydskrifte en koerante skiet die hoogte in. Die papier waarop verskeie Suid-Afrikaanse tydskrifte gedruk word, word van Europa af ingevoer.
Die immer stygende koste van drukpapier kan nie altyd deurgegee word aan klante nie, het mnr. Steve Binnie, uitvoerende hoof van die papierreus Sappi, vroeër tydens dié maatskappy se aanbieding oor sy jaarresultate gesê. “Die ooglopende gevaar is dat die aanhoudende stygings die verskuiwing van gedrukte media na digitale formaat vir sommige produkte sal verhaas.”