
Volgens mnr. Jacques Roodt, wat naby Elliot boer, is dit op dié stadium ’n baie moeilike en ongekende seisoen en tans ongelooflik nat. Hy het sedert September vanjaar reeds 400 mm gemeet.
“My pa van 66, wat al sy hele lewe lank hier boer, en baie ouer mense sê hulle het soveel reën nog nie gesien nie.
”Hy het verlede week 140 mm in 48 uur gemeet. Hy kon tot dusver slegs 10% van sy mielie-aanplantings in die grond kry, en dit wat reeds geplant is, is weens storms en verspoelings nie in ’n goeie toestand nie.
“Ons kan maar net aan die Here se voete vashou en glo en vertrou dat dinge sal afplat na Desember, want die tyd loop uit om te plant.”
Die ideale planttyd vir mielies in die gebied eindig op 10 Desember.
Min sonskyndae
“Ons ervaar tans baie min ‘reënlose’ dae, jy kry nie geleentheid om by jou boerderybedrywighede uit te kom nie,” sê mnr. Gary Vorster, wat by Elliot met mielies, aartappels, soja en vleisbeeste boer.
Hy kry tans nie kans om jong gewasse te spuit teen onkruid, bemesting toe te dien en verder te plant nie.
“Ek hoop maar net vir ’n gaping dat ek minstens ’n week se werk kan inkry. Die nat toestande is gunstig vir aartappelroes, waarvoor hy weekliks moet spuit, maar hy kan nie in die lande kom nie. Ek het al soortgelyke seisoene gehad waar ek so baie reën gemeet het, maar dit was laas in die 1990’s.”
Entstowwe
’n Groot kwelling is die tekort aan entstowwe vir insekoorgedraagde siektes soos knopvelsiekte. Paaie in sy area is tans besig om weg te spoel weens die groot hoeveelhede reën.
Volgens mnr. Peter Cloete, voorsitter van Agri Oos-Kaap, wat naby Dordrecht boer, is dit tans baie nat in sy gebied.
“Hier is dit of oordaad of hongersnood. Dit is baie nat by ons, maar eerder te nat as te droog. Die finansiële verlies van nat toestande is nie vergelykbaar met die droogte nie.”
Hy het onder meer ’n groot dam op die plaas verloor. Die damwal het weens die nat toestande ’n gat begin vorm en toe meegegee. Cloete het ook sy kommer uitgespreek oor die beskikbaarheid van entstowwe vir insekoorgedraagde siektes, met toestande wat nou juis gunstig is vir uitbrekings. Hy het vir Oktober en November reeds nagenoeg 250 mm reën gemeet, dubbel die gemiddelde vir dié tyd van die jaar.
“Ons is baie dankbaar, want ons gras kan nou groei ná ’n paar jaar se droogte, maar daar kom maar ’n paar pyne daarmee saam.”
Paaie
Paaie in die area is tans “’n absolute nagmerrie”, weens onvoldoende geld vir herstelwerk.
“Baie van die probleme is weens agterstande in die herstelwerk, want van die paaie is 15 jaar laas onderhou.”
Volgens Cloete het hy ’n paar jaar gelede tydens die droogte gewaarsku dat die paaie na twee of drie nat seisoene onrybaar sal wees, “en nou is ons daar”.
Op Maartinsdel naby Rhodes, by mnr. Rassie Smith en sy eggenoot, Loekie, het daar sedert die begin van die jaar reeds 780 mm reën geval. Hulle het sedert begin September reeds 283 mm gemeet.
“In wese is ons darem eintlik baie dankbaar vir ‘n ongelooflik goeie reënjaar. Dis net hope klein dingetjies wat daarmee gepaard gaan wat dinge bietjie moeilik maak.”
Met skeertyd is dit moeilik om skape droog te hou, en die skeerspanne sukkel ook want hulle kry eers betaling ná skeer.
“Ons paaie wat reeds in ’n swak toestand was, is nou in ‘n gemors. Vragmotors kan baie moeilik die wol hier uitkry Baai toe.
”Planttyd is om die draai en dit is ’n gesukkel om brandstof op die plaas aan te vul. Vir ons ouens wat 100% van sonkrag afhanklik is, is daar nou heelwat ekstra brandstofkoste vir kragopwekkers. Maar ’n groot boodskap is dat die reën op die ou einde self sy eie skade herstel.”
Volgens mnr. Ivor Isted in die distrik Barkly-Oos het twee brûe naby hom al weens die oorstromings ineengestort. Een is maar vier jaar gelede opgerig.
Hy sê ’n ouer egpaar, wat afhanklik is van die brug en voertuie, is nou basies afgesny van die wêreld. Hy moet ook sy skape later skuif na hoërgeleë grond om die laaggeleë veld vir ses maande te spaar en as voorkoming teen bloutong, maar weens beperkte toegang sal dit hom nou meer as vier uur kos om die kampe te bereik, waar dit normaalweg 45 minute moet neem.
By hom is dit ook tans skeertyd.
Hy moet nou ekstra koste aangaan om die skeerspan vir twee weke te onderhou, waar dit normaalweg een week sou wees. Dit is weens die swak paaie ook moeilik om die skeerspanne te vervoer.
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.