
Goeie reën in die somerreëngebied én ’n geval van Afrika-perdesiekte (APS) wat onlangs in die Noord-Kaap gediagnoseer is, is tekens dat boere op die uitkyk moet wees vir dié siekte onder hul diere.
Netwerk24 berig dr. Lubabalo Mrwebi, Oos-Kaapse hoof van die departement veeartsenydienste, het boere in dié provinsie aangeraai om die staatsveearts te kontak as hul diere simptome van APS toon.
Die reën wat sedert begin Januarie op talle plekke geval het, kan die soort muggie wat die siekte oordra, laat uitbroei. ’n Geval van perdesiekte is ’n paar weke gelede naby Kuruman aangemeld. Uitbrekings van dié siekte lei tipies tot ’n kwarantyntydperk wat geld tot 60 dae nadat die laaste perd van dié siekte gevrek het.
Volgens dr. Faffa Malan, bestuurder van die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika, is APS ’n virrussiekte wat perde, muile en donkies aantas.
Die siekte kom slegs in Afrika voor. Die siekte word deur muggies oorgedra, versprei nie van perd tot perd nie en is veral in omloop van Januarie tot Maart.
As jy vermoed dat een van jou diere APS opgedoen het, kan jy hier meer daaroor lees.