Pensioengeld en spaargeld word al hoe meer gesien as ’n finansieringsbron vir die grootskaalse ontwikkeling aan infrastruktuur van meer as R800 miljard wat die Regering oor die volgende paar jaar beoog.
Dié opsie het verskeie kere ter sprake gekom op die Regering se konferensie oor infrastruktuur en ontwikkeling wat verlede week onder leiding van mnr. Ebrahim Patel, Minister van Ekonomiese Ontwikkeling, in Boksburg gehou is.
Prof. Joseph Stiglitz, Nobelpryswenner en professor in ekonomie in Amerika, het gesê as geld nie bestee word om die ekonomie te verbeter nie, word die geld vermors.
“Die gaan nie daaroor of ons dit kan bekostig nie. Dit gaan daaroor of ons dit kan bekostig om dit nié te doen nie.” Hy sê talle lande in Oos-Asië het pensioengeld suksesvol in ontwikkelingsprojekte belê.
Suid-Afrika het die onderskeiding dat hy een van die lande is met die grootste kapitaaluitvloei per jaar – sowat 1% van die bruto binnelandse produk. “Dit is ongewoon vir ’n ontwikkelende land.
Buiteland of plaaslik?
Suid- Afrika moet homself vra of hy in die buiteland wil belê of plaaslik om ontwikkeling te bevorder.” Stiglitz meen dat lande wat vandag geld leen om projekte te finansier en daaruit winste genereer, is baie beter daaraan toe.
“As ’n mens geld kan leen teen bykans geen rente nie en jy ontwikkel projekte wat opbrengste van 10% tot 30% kan lewer, dan is dit mos dwaas om dit nie te doen nie.”
Patel het gesê die infrastruktuurplan is ’n grootskaalse poging om die ekonomie te hervorm en die grondslag te lê vir groei en werkskepping. “Dit is ’n geleentheid om die hele land met die oog op ’n gemeenskaplike visie te mobiliseer en vereis vennootskappe met die sake- en arbeidsektor.”
Hy het ook verwys na aftreefondse as ekwiteit vir sommige infrastruktuurprojekte. Altesame 17 geïntegreerde strategiese projekte is ontwikkel en uitgesonder om ekonomiese ontwikkeling in van die armste provinsies aan te spoor.
Een behels landbou-logistiek en landelike infrastruktuur. Dit gaan oor beleggings in landbou- en landelike infrastruktuur wat die uitbreiding van produksie, werkskepping, kleinskaalse boerderye en landelike ontwikkeling sal bevorder. Dit sluit in opbergingsgeriewe, vervoer, besproeiing, navorsing en ontwikkeling, akwakultuur en landelike toerisme.
2 Mei 2012