’n Vermoedelike uitbreking van Afrika-perdesiekte word tans in die distrik Mamre in die Wes-Kaap ondersoek. Luidens ’n verklaring is nadoodse ondersoeke op twee perde gedoen en is monsters na die Onderstepoort-instituut vir Veeartsnykunde asook die Equine-navorsingsentrum in Pretoria gestuur vir verdere toetse.
Dr. Piet Koen, die waarnemende hoofdirekteur van die Wes-Kaapse Veeartsenydiens sê molekulêre toetse wys tekens van dié siekte, maar dit is nog nie amptelik bevestig nie.
Intussen is die Wes-Kaap se grense vir die vervoer van perde van ander provinsies af vroeër die week tydelik gesluit. Die verbod is ingestel omdat dié siekte reeds in ander provinsies voorkom.
Binne toesig area
Die siekte het in 2007 laas in die Wes-Kaap se beheergebied vir Afrika-perdesiekte voorgekom. Die plaas waar die perde onlangs gevrek het, is wel binne die provinsie se toesigsone vir dié siekte geleë, sowat 50 km van die Afrika-perdesiektevrye gebied af.
Die vrye gebied is die enigste plek in die land waar perde vir uitvoer na ander lande ontvang word. Die toesigsone dien as ’n vroeë waarskuwingstelsel vir die vrye gebied, aangesien perde in dié gebied gewoonlik nie ingeënt word nie, soos wat die uitvoerprotokol vir die Europese Unie bepaal.
Die provinsie se veeartsenydiens het wel ’n intensiewe ondersoek in ’n wye gebied (10 km radius) rondom die plek waar die siekte uitgebreek het onderneem om vas te stel waar die bron van die besmetting is.
Oordrag
Die siekte word deur muggies versprei. ’n Verbod is op die vervoer van enige perde, donkies, muile of sebras binne die landdrosdistrik Malmesbury geplaas. Enige sulke bewegings moet deur die staatsveearts goedgekeur word. Sy kontaknommers is 021 808 5026 of 021 808 5253.
Staatsveeartse sal met die samewerking van private veeartse alle perde in die omgewing inent. Perde-eienaars in die omgewing word ook aangeraai om hul diere oornag in stalle aan te hou, vanaf ten minste twee uur voor sononder tot twee uur ná sonop.
Perde moet ook twee keer per dag met insekweerders behandel word.
Die Wêreld-gesondheidsorganisasie en die Europese Unie is reeds oor die situasie ingelig. Die moontlikheid van ’n uitvoerverbod sal oorweeg word nadat bepaal is hoe ernstig die uitbreking is.
4 Maart 2011