
L&AF het kennis gekry dat sy fabriek straks in dié produksiejaar met 25% minder water oor die weg sal moet kom.
“Dit is ’n groot probleem en sal ’n kwaai impak hê op hoe die fabriek bestuur word. As ons elke dag net 75% van die water kry wat ons nodig het, sal dit rampspoedig wees. Ons moet dus nou saam met boere en die munisipaliteit werk om die invloed te beperk. Ons sal met kreatiewe oplossings vorendag moet kom, soos om drie dae te werk en dan een dag af te wees,” sê mnr. Nassos Martalas, uitvoerende bestuurder van L&AF.
Volgens hom pas die fabriek reeds “radikale waterbesparingsmaatreëls” toe, maar die waterbeperking is ’n groot bron van kommer. Dit is uiters waterintensief om vrugte in te maak.
“Ons voorsien nie dat die beperkings die appelkoosoes gaan raak nie, want dit word binnekort ingeneem. Pere behoort ook nie ’n probleem te hê nie, want dit het ’n goeie opbergingsvermoë. Die waterkrisis gaan glo in Januarie en Februarie wees en perskes is ons groot bekommernis, want dis ’n lang, uitgerekte oestyd.”
Martalas sê hoewel die fabriek alle vrugte sal neem, het hy reeds vir boere laat weet dat poel B-riglyne vir perskes toegepas kan word.
“Perskes is baie vatbaar vir veroudering. Selfs met gewone innames is ons dae in die koelkamers veels te lank. As ons nog ’n verdere 10-15% by die koelkamertyd moet bysit, raak die vrugte bykans onbruikbaar,” het hy gesê met verwysing na die kans dat vrugte opgeberg moet word tot op dae waarop die fabriek wel gaan loop. Die perske-oes skop rondom Kersfees af.
“As die waterbeperkings inskop, sal ’n deel van die vrugte nie meer vir inmaak verwerk kan word nie en sal ons boere teen ’n ander pryspunt daarvoor moet vergoed. Vir die deel van die vrugte wat ons inneem en wel kan inmaak, waarborg ons ’n gehalteprys, maar vir die res is daar darem ’n vloerprys.”
‘Net ’n rookskerm’
Mnr. Wiehahn Victor, uitvoerende hoof van die Inmaakprodusentevereniging, meen egter L&AF gebruik die watersituasie as ’n rookskerm om minder vrugte by boere te koop. Hy het einde Oktober op ’n inligtingsdag op Robertson gesê daar heers wêreldwyd ’n lae vraag na inmaakvrugte, wat pryse onder druk sit. Agterskotbetalings vir perskes en pere vir die 2016-’17-produksiejaar gaan ook heelwat laer wees as geprojekteer.
“Die huidige produksiejaar hou ernstige probleme vir L&AF in. Die reën wat die week in sekere produksiestreke geval het, is ’n enorme seën en voordeel, maar nou sit ons met ’n fabriek wat nie al die vrugte gaan vat nie.”
Hy meen die boere kan help planne beraam om die fabriek aan die gang te hou met water, soos om self besproeingswater af te staan.
Victor sê die fabriek se swak finansiële prestasie word ook voorgehou as ’n rede om minder vrugte (en teen swakker pryse) in te vat.
“Tigerbrands – waarvan L&AF ‘n filiaal is – se finansiële resultate word einde November bekend gemaak, maar die swak vertoning kan reeds in die maatskappy se aandeelprys gesien word.”
Planne vir boere
Victor sê perskeboere moes teen hierdie tyd al hul ou, nie-winsgewende boorde uitgehaal het sodat dit nie onnodig water gebruik in die droogtetoestande nie.
“Boere moet ook die graderingsaspekte in gedagte hou en al hul tweede- en derdegraadvrugte van die bome verwyder. As jy swakker vrugte lewer, kry jy ’n baie swak prys. Daarom moet boere daarna mik om al hul vrugte in die klas 1 inmaakgraad te kry. Verder moet boere ook probeer om hul vruglading te verminder om groter vrugte te verseker.”