
Dit is hul boodskap aan pres. Cyril Ramaphosa in antwoord op die president se pleidooi dat hy nie wil hê jong wit mense moet die land verlaat nie.
Ramaphosa het vroeër vandeesmaand, as deel van sy verkiesingsveldtog, boere en sakelui op die wynplaas Beyerskloof by Stellenbosch toegespreek en beloof dat daar wel ’n toekoms vir wit jong mense in die land is.
Hy het hul vrese probeer besweer deur te sê: “Hierdie is die Suid-Afrika van ons voorvaders en die een waar ’n beter lewe vir ons almal geskep moet word.”
Hy het dit duidelik gemaak dat die gevoel wat jong wit mense het dat hulle nie welkom in die land is nie, heeltemal verkeerd is.
Petisie
TLU SA se jong boere het nou ’n petisie die lig laat sien waarin hulle aandui onder watter omstandighede hulle nie groener weivelde sal soek nie en sal bly om die land te help ontwikkel.
Mnr. Ferdie Landman, voorsitter van TLU SA se jongboerkomitee, sê hulle wil dit duidelik maak dat hulle as jong wit mense onwelkom en onveilig voel in die land.
“Daar is verskeie dinge wat ons bekommerd maak en groener weivelde buite die land laat oorweeg,” sê hy.
Die groep het in die petisie wat aan Ramaphosa gestuur sal word, kommerpunte genoem:
*Partye soos die BLF en EFF, en hul leiers, mag nie toegelaat word om te sê dat hulle wit mense gaan vermoor of skade gaan aandoen nie.
*Daar moet saamgewerk word om ’n veilige omgewing te skep en daar moet teen plaasmoorde opgetree word.
*Die beleide van swart ekonomiese bemagtiging, kwotas en transformasie moet laat vaar word.
*Privaat besitreg en die vryemarkstelsel moet gerespekteer en onteiening sonder vergoeding moet afgekeur word.
*Daar moet teen alle korrupte politici en staatsamptenare opgetree word.
*Droogtehulp moet aan alle boere, ongeag velkleur, beskikbaar gestel word.
*Die gehalte van die land se water moet beskerm word.
*Elektrisiteitsvoorsiening moet stabiel wees sonder dat buitensporige tariewe daarvoor betaal moet word.
*Boere moet op meriete kan boer sonder vrees of veroordeling.
Landman het sy hoop uitgespreek dat Ramaphosa gehoor sal gee aan hul vrese en bekommernisse.
Die petisie kan by http://onswilbly.co.za/ gesien word.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.