In ’n verassende aankondiging het mnr. Petrus de Wet, voorsitter van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV), bekend gemaak dat hy ná ses jaar dié tuig gaan neerlê. Hy sal nie vir herverkiesing beskikbaar wees op die vereniging se nasionale kongres in Junie in Port Elizabeth nie.
De Wet sê in ’n verklaring dat die pos die afgelope paar jaar tot ’n heeltydse betrekking ontwikkel het wat groot opofferinge van sy gesin geverg het en ook sy tol op sy plaasbestuur begin eis.
“Ek sal graag wil glo dat ek die werk oor die afgelope paar jaar suksesvol gedoen het, maar dit het tyd geword vir die volgende persoon om die verantwoordelikheid oor te neem.”
De Wet sê 70% van die NWKV se voorsitter se tyd word deur die werksaamhede van die Probleemdierbestuursforum (PMF) in beslag geneem. Hy sê dié taak kan nie na iemand anders gedelegeer word nie en dat hy bereid sal wees om die nuwe voorsitter vir ’n jaar in ’n raadgewende hoedanigheid in die forum by te staan.
Hy sal ook as voorsitter van die Internasionale Woltekstielorganisasie (IWTO) se produsentegroep bedank en die ondervoorsitterskap van die Woltekstielraad (WTC) neerlê. Hy is egter beskikbaar om as voorsitter van die IWTO se omgewings- en-dierewelsynsforum aan te bly totdat die organisasie in November ’n opvolger kan kies.
Hy sal ook beskikbaar wees om die NWKV in die direksie van Cape Wools te verteenwoordig. De Wet sê hoewel daar druk op hom is om sy besluit te heroorweeg, die tyd nou ryp is om ’n opvolger te kies. Hy het alle lede van die NWKV en die bestuur vir hul lojale steun tydens sy dienstermyn bedank.
23 Mei 2011