
Mnr. Piet Karsten van Karsten Boerdery is as vanjaar as Hortgro se bedryfsleier aangewys op ’n gala-aand.
Karsten boer met 1 622 ha tafeldruiwe in die Noord-Kaap, Wes-Kaap en Namibië, 100 ha rosyntjies en wyndruiwe, 373 ha appels, pere, kersies en pruime, 430 ha sitrus en 177 ha dadels. Verder het hy ook granate, spanspek, waatlemoen, pekanneute, boerbokke, Bonsmara-beeste en ’n Dorper-stoetery.
Hy het uitvoer- en logistieke besighede, New Vision en Horizon Fruit, sowel as ’n invoerbesighed in England, Karsten UK, en Europa, ’n pakhuis in Nederland en ’n kantoor in China. Die boerdery verskaf werk aan 900 permanente en 400 seisoenale werkers.
Dr. Ian Crouch van Experico is aangewys as Navorser van die Jaar. Hy het ’n metode ontwikkel om Forelle-pere met behulp van SmartFresh-tegnologie vroeër in die mark te kry. Die projek het begin met ’n paar duisend kartonne in 2011 en uitgebrei na oor die 760 000 kartonne verlede jaar. Die verwagting is dat sowat 1,2 miljoen kartonne vanjaar met die protokol gestuur sal word. Daar word gereken dat die tegnologie ’n ekstra R23 per karton vir produsente realiseer. SmartFresh is ’n tegnologie wat help om vrugte langer vars te hou.
Mnr. Richard Myburgh van Cortina Farms in die Vyeboom-gebied is aangewys as die Entrepreneur van die Jaar. Hy het so 28 ha onder appel- en peerproduksie. Hy het ook 'n vervoer- en verskepingsbesigheid met ses vragskepe. Hy was glo moeg daarvoor om heeltyd te wag vir vragmotors wat laat was en het toe besluit om sy eie te begin om vrugte teen optimale kwaliteit by die mark te kry.
Mnr. Dappie Smit, hoofbestuurder van Droëvrugte Tegniese Dienste, het ’n spesiale toekenning gekry vir sy bydra in die bedryf. Hy het gespot dat hy waarskynlik die eerste persoon is ooit, wat ’n toekenning gekry het vir ’n leeftyd van “droogmaak”.
Verder het die meester innokuleerder, mnr. Tippie Malgas van die Suid-Afrikaanse Plantverbeteringsorganisasie, die Plaaswerkers-toekenning gewen. Malgas het toegesien dat die ogie-span vanjaar 1,2 miljoen steenvrugte ogies insamel en tydens die herfsseisoen het hulle 1,6 miljoen kernvrugte ogies ge-oes.
Mnr. Samuel Hugo het die Plaaswerker op Bestuursvlak-toekenning gewen. Hy is die logistieke bestuurder op die plaas Wydekloof in die Koue-Bokkeveld. Hugo se raad aan ander werkers was om geleenthede aan te gryp soos dit jou kant toe kom: “As iemand in jou glo, moet jy dit uitbuit,” het hy geskerts.