Mnr. Abri Richter het onlangs begin koring plant op sy plaas Langvlei, sowat 20 km van Piketberg in die rigting van Eendekuil. Op hierdie spesifieke stuk grond het hy verlede jaar nie geoes nie omdat daar niks in die koringare was nie.
“Ons het verlede jaar te min reën gehad om graan te lewer en het net saad teruggehou,” sê hy. Die Richters beoefen reeds sedert die laat 1980’s verminderde bewerking. Hulle het drie jaar gelede ’n enkelskyfplanter van die onderneming Equalizer in Brackenfell in gebruik geneem.
Dit was egter weens die volgehoue droogte nog nie moontlik om resultate van dié planter te vergelyk met sy vorige tand-tipe planter nie. Hy hou van die nuwe planter se veelsydigheid.