
Mnr. Gerhard de Kock, sal onthou word as een van die eerste grondboneprodusente wat ná die ontbinding van die Oliesaderaad ’n private verwerkingsaanleg gevestig het. Hy het in 1975 ’n familieboerdery op die plaas Taaiboschspruit by Setlagole begin en in 1991 die geleentheid raakgesien om grondbone verder te verwerk.
Hy het toe die familiebesigheid Roba Foods begin en sy seun, Lourens, dogter, Mariëtte, en skoonseun, Brian, gaan voort met die bedryf van die aanleg. Lourens, besturende direkteur, sê die familieboerdery plant sowat 180 ha grondbone per jaar in ’n wisselboustelsel met mielies.
Hulle verwerk sedert die aanleg begin is hul eie grondbone en bemark die verskillende pitgroottes aan verskeie markte. Nadat Lourens in 1996 by die boerdery aangesluit het, het hulle ook begin om ander produsente se voorraad aan te koop en hulle verwerk jaarliks sowat 7 000 ton. “Ons is so dankbaar vir die ondersteuing van ander produsente en ons klante,” sê hy.
Hy sê sy pa was van die begin af baie betrokke by Setlagole se boerevereniging en het ook later in die dagbestuur van Noord-Kaap-landbou-unie (Agri Noord-Kaap) gedien. “Dit was veral as raadslid van die Oliesaderaad en verteenwoordiger van produsente tussen 1988 en 1991 waar hy baie insettte gelewer het tot die vrye mark vir die grondbonebedryf.
“Die familie wil almal bedank wat hulle ondersteun het in hierdie moeilike tyd met die groot verlies.” Hy word oorleef deur sy vrou, Marie, haar twee seuns, Hennie en Theoniel, en sy seuns, Deon en Lourens, dogter, Mariëtte, en hul gesinne.Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.