
Die organisasie se statistieke dui aan dat sedert 1 Januarie 2016 altesame 963 plaasaanvalle en 180 -moorde voorgekom het. Sedert die begin van die jaar het die organisasie 171 aanvalle en 26 moorde aangeteken. Dit verteenwoordig een aanval elke 21 uur sedert die begin van die jaar.
Die afgelope naweek word as ’n “rowwe naweek” beskryf met twee plaasmoorde in sewe aanvalle. Volgens die organisasie het twee aanvalle en een moord in Gauteng plaasgevind, twee aanvalle in Limpopo, een aanval in die Vrystaat en twee aanvalle en een moord in die Oos-Kaap. By Vaalwater en Mooinooi is twee plaasaanvalle oor die naweek voorkom danksy tydige optrede deur die plaaslike gemeenskap en veiligheidstrukture.
Mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sê die organisasie se statistieke toon ’n toename in aanvalle en moorde die afgelope 2½ jaar. In 2016 is 71 moorde tydens 369 aanvalle aangeteken, en verlede jaar 82 moorde tydens 423 aanvalle.
Waak teen debat oor statistieke
Van Zyl sê TLU SA weet sy statistieke stem nie met die polisie se amptelike statistieke ooreen nie. “Ons sal iets by ons statistieke voeg net as ons die voorval kan bevestig. Ons is baie konserwatief in ons benadering. Ons probeer baie seker maak van die akkuraatheid van die inligting.
“Ons sien dat die polisie se statistieke minder moorde as ons s’n aandui, maar ons beleef ’n stygende neiging. Ons moet waak teen ’n debat oor statistieke. Dit gaan hier oor die werklikheid en nie statistieke nie. Ons moet eerder vir mekaar vra waar is die wil van die staat om die situasie aan te pak as om oor statistieke te kibbel.”
Van Zyl sê die polisie se statistieke vir verlede jaar het aangedui dat 52 mense elke dag in die land vermoor word, “maar jy hoor nie die staat veel daaroor sê nie”. Hy verwys na die voorval waar Israelse soldate op 14 Mei 60 mense by Gaza in Palestina doodgeskiet het tydens ’n protesaksie deur Palestyne. “Hoekom hoor ’n mens baie daaroor en niks oor die 52 moorde daagliks in Suid-Afrika nie?”
Van Zyl sê die Regering se twee hooftake is om ’n veilige omgewing vir sy landburgers te skep, asook ’n ekonomiese klimaat wat groei bevorder. Die Regering misluk op die oomblik met albei dié take. “Jy kan nie ekonomiese groei skep te midde van onsekerheid weens ’n fokus op onteiening sonder vergoeding nie.”
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.