
Hoewel die meeste aanvalle en moorde in Gauteng (51 aanvalle), Noordwes (28 aanvalle) en Limpopo (27 aanvalle) voorgekom het, het die aantal aanvalle in die Wes-Kaap drasties verhoog. “Die 16 aanvalle van 1 Januarie tot 31 Mei daar is meer as dubbel die hoeveelheid aanvalle vergeleke met die ooreenstemmende tyd verlede jaar,” sê mnr. Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.
Volgens Cameron toon AfriForum se data dat die plaasaanvallers in baie gevalle nie geld gebuit het nie, maar mense het baie seergekry. Hy sê hoewel mense en spesifiek instellings soos Kwanalu beweer dat plaasaanvalle net maatskaplik-ekonomies gemotiveerd is, is dit nie geval nie.
“Buiten die feit dat geld soms ’n rol speel, is dit ook so dat ’n ernstiger soort misdadiger by hierdie aanvalle betrokke is. As ’n mens na Suid-Afrika gaan kyk, is daar ’n neiging dat moorde met messe of met skerp voorwerpe gepleeg word, terwyl verreweg die meeste plaasmoorde met vuurwapens gepleeg word,” sê Cameron.
AfriForum se statistieke toon dat daar in 61 van die aanvalle kontant betrokke was, in 67 was daar nie geld betrokke nie en by 56 was die motief nie duidelik nie. Daarby is in 151 aanvalle vuurwapens gebruik, in 27 was daar nie vuurwapens nie en by 42 aanvalle is dit onduidelik.
Mnr. Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, het sy kommer uitgespreek dat hoofstroomkommentators en meningsvormers blykbaar daarop toegespits is om enige pogings om die wreedheid van aanvalle te beklemtoon, as ’n samesweringsteorie of ’n oordrywing te bestempel.
“Plaasmoorde en -aanvalle is ’n ernstige krisis. Dit is belangrik dat ons feitlik daaroor kommunikeer; dit is egter net so belangrik dat die omvang van die krisis erken word vir wat dit is.”
Skerp woorde
TLU SA het in ’n sterk bewoorde verklaring ook sy kommer uitgespreek oor die toename in aanvalle, veral ná die onlangse verkiesing. Mnr. Henry Geldenhuys, ondervoorsitter van die organisasie, het gewaarsku dat sake nie langer so kan aangaan nie. “Daar is ’n werklike gevaar dat die pot in ons land gaan oorkook.”
Hy sê die nasionale moordsyfer van sowat 53 mense per dag is totaal onaanvaarbaar. “In Mei alleen was daar 46 aanvalle en 7 moorde op plase. Junie het skaars begin en daar was reeds 5 aanvalle en ’n moord op plase.”
TLU SA daag die regering, polisie en vervolgingsgesag uit om binne die volgende maand ’n doeltreffende en werkbare oplossing toe te pas. “Die fondament hiervan moet wees dat die wet doelgerig en dringend toegepas word. Die totale verval van wetsgehoorsaamheid in ons land kan nie langer met gevoude hande aanskou word nie. Daar moet opgetree word,” sê Geldenhuys.
Agri SA het ook op sy beurt, saam met Agri Wes-Kaap, die onlangse moord op mnr. Stefan Smit, boer van Stellenbosch, ten sterkste veroordeel en sê daar is reeds met pres. Cyril Ramaphosa geskakel om onmiddelike optrede te eis.
“Plaasveiligheid, vir boere en plaaswerkers, is die president se eerste voorrangsaak teenoor die landbougemeenskap,” sê mnr. Dan Kriek, voorsitter van Agri SA. “Hy het in April voor die nasionale verkiesing beloftes gemaak dat boere beveilig sal word en ons sal nou optrede eis. Ons kan nie behoorlik aan ander beleidspunte aandag gee as die veiligheid van ons boere geensins gewaarborg word nie. ’n Nasionale plan gerugsteun deur aansienlike hulpbronne, doeltreffende polisiëring en doeltreffende werking van die regstelsel wat met dringendheid toegepas word, is nou nodig.”
Hy sê plaasaanvalle is ’n probleem wat oor ’n lang tyd nie die nodige aandag van die nasionale regering ontvang het nie. Plaasaanvalle is meestal wreed en gewelddadig met ’n wye impak op die naasbestaandes en die gemeenskap.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.