
Mnr. Stefan Smit (62) van die plaas Louisenhof net buite Stellenbosch is Sondag rondom 18:50 deur vier rowers in sy huis aangeval en geskiet. Sy vrou en ’n familievriend, wat ook tydens die aanval in die huis was, het die voorval oorleef. Volgens lt.kol. André Traut, woordvoerder vir die provinsiale polisie, het die rowers toegang tot die huis gekry deur ’n deur wat nie gesluit was nie. Die verdagtes is steeds op vrye voete.
Intussen berig Netwerk24 oor ’n vrou van ’n plaas in die Klapmuts-omgewing wat vanoggend deur rowers met ‘n pistool oor die kop geslaan is. Die omstandighede rondom die voorval word nog ondersoek.
Mnr. Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, sê luidens ’n verklaring die organisasie gaan weer ’n versoek tot pres. Cyril Ramaphosa rig om toe te sien dat die landelike veiligheidsplan toegepas word sodat die land se produsente en plaaswerkers kan voortgaan om kos te produseer sonder dat hul lewe daagliks bedreig word. “Ramaphosa gaan hom ook dringend teen aanvalle op die landbousektor moet uitspreek om te wys dat hy die politieke wil het om dit aan te pak en dat sy regering die vermoë het om die land só te bestuur dat alle inwoners van landelike gebiede se veiligheid verseker is.”
Dringende stappe
Dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, het gister op ’n nuuskonferensie op Stellenbosch gesê ’n aanval op ’n boer of ‘n plaaswerker is nie net ’n aanval op ’n individu nie, maar ’n aanval op die landelike ekonomie as geheel en dus moet dit dadelik aangepak word. Agri Wes-Kaap en die Stellenbosse landbougenootskap was ook by die konferensie teenwoordig. “Ons moet ons landelike ekonomie teen misdaad en wetteloosheid beskerm.”
’n Aantal dringende stappe sal derhalwe in die Wes-Kaap gedoen word om misdaad in landelike gebiede aan te pak. Dit sluit onder meer in die stig van gespesialiseerde landelike veiligheidseenhede en intelligensiesentrums, en samewerking met die nasionale vervolgingsgesag en ander belanghebbendes om misdaad op plase te monitor. Die Wes-Kaapse regering sal ook saam met ander belanghebbendes versoek dat verdagtes wat in verband met ’n plaasmoord in hegtenis geneem word, nie borgtog mag kry nie.
Meyer het gesê plaasaanvalle hou ’n ernstige bedreiging in vir die Wes-Kaapse landboubedryf, wat sowat 45% van Suid-Afrika se landbou-uitvoer lewer.
Nog ’n boer, mnr. Tool Wessels van Bonnievale, is verlede maand in dié provinsie vermoor.
Konferensie
Adv. Albert Fritz, Wes-Kaapse minister van gemeenskapsveiligheid, wat ook die vergadering bygewoon het, het gesê plaasaanvalle kan nie verder verdra word nie. “Ons plase is die broodmandjies en voorsien ’n voortbestaan aan almal wat daarby betrokke is.”
Hy het gesê dit is noodsaaklik dat gemeenskappe betrokke is by landelike veiligheid. “Ons kan nie net op die polisie en die regering daarvoor staatmaak nie. Ek sal ’n konferensie met verskeie munisipaliteite belê om ’n veiligheidsnetwerk in ons landelike gebiede te vestig.”
Mnr. Henry Geldenhuys, adjunkpresident van TLU SA, sê dit het tyd geword vir die regering, polisie en nasionale vervolgingsgesag om iets te doen aan die stand van landelike veiligheid. “Die nasionale moordsyfer is sowat 53 mense per dag. Dit is vir ons onaanvaarbaar. Gedurende Mei was daar 46 plaasaanvalle en sewe plaasmoorde. Junie is nog net ’n paar dae oud en daar was reeds ses plaasaanvalle en ’n moord. Ons kan nie so aangaan nie.”
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.