
Doeltreffende spanwerk van boere en die polisie het ses vermeende plaasaanvallers só die skrik op die lyf gejaag dat hulle hulself in ’n mielieland “begrawe” het.
Luidens 'n berig op Netwerk24 is mnr. Gert Malan (65) en sy vrou, Lulu (60), Sondag oorval toe hulle van die kerk af teruggekom het. Hulle is van Bothaville.
Malan het stilgehou om die hek oop te maak. Toe hy omdraai, was die ses mans, almal gewapen, daar. Hulle het hom na die huis geneem en beveel om die deur oop te sluit, waarna hy ook gedwing is om twee kluise oop te sluit, waaruit geld, gewere en pistole gesteel is.
Die buurtwag en die polisie het vinnig opgetree en die verdagtes vasgetrek. Net die koppe van die ses Zimbabwiese verdagtes het bo die grond uitgesteek toe hulle vasgetrek is. Dit was ’n vergeefse poging om ’n gesamentlike soektog deur boere en verskeie polisie-eenhede te ontduik.
Mnr. Bully Botma, ’n boer van Bothaville, het gesê hoogloopspuite is in die soektog gebruik om nie die die mielies te beskadig nie.
Bron: Netwerk24