Vyf verdagtes word tans gesoek nadat ’n boer van Ventersdorp die afgelope naweek vermoor is, sê die SAPS.
Kapt. Adéle Myburgh sê die 56-jarige mnr. Dries du Toit van die plaas Klipplaatdrif is tydens die voorval oorlede en sy vrou, Lettie, is ernstig beseer.
Die groep het Saterdagoggend (14 Januarie 2012) omstreeks 04:10 ’n deur van die Du Toits se huis met ’n skerp voorwerp oopgebreek. Du Toit, Lettie en Du Toit se suster, me. Elizabeth de Villiers, is oorval terwyl hulle geslaap het.
Volgens Myburgh het ’n struweling tussen Du Toit en die aanvallers ontstaan waartydens hy ernstige kopbeserings opgedoen het. Hy is op die toneel dood. Lettie is in ’n plaaslike hospitaal opgeneem waar sy behandeling ontvang het. De Villiers is vasgebind en het slegs geringe beserings opgedoen.
Motief
Myburgh sê dit lyk asof die motief vir die voorval diefstal was, omdat duisende rande se huishoudelike toestelle gesteel is.
Luidens ’n berig in Beeld sê ’n kennis van Lettie sy was verlede week onrustig oor hul veiligheid. Vier persone wat hulleself as polisiebeamptes geïdentifiseer het, het haar glo kom besoek en gesê hulle ondersoek die diefstal van ’n petroltenkwa.
Die mans wou in die huis ingaan om ’n verklaring by haar af te neem. Sy het egter geweier. ’n Paar dae later het ’n beampte, wat glo aan haar bekend is, haar gaan sien. Hy was glo bewus van die ondersoek.
Myburgh sê al die bewerings word ondersoek. “Die ondersoek is tans in ’n baie sensitiewe stadium.”
Bron: Beeld
16 Januarie 2012