Die georganiseerde landbou verwelkom die ANC se uitspraak teen die Potgieter-plaasmoorde, maar verskeie vrae bestaan daaroor.
Die party het vroeër ‘n verklaring uitgereik waarin dit sê: “Die ANC verwerp enige vorm van misdaad in die land, insluitend die onlangse moorde van Attie Potgieter, sy vrou Wilna en hulle drie jarige dogter Willemien.”
Die party het wel sy ontevredenheid uitgespreek oor die koppeling van die misdade aan rasissme, want hy voel dit polariseer individue, instede daarvan om die nasie te verenig. Die ANC het sy simpatie met die familie uitgespreek, en gesê hulle is tevrede met die vlutige optrede van die Polisie om die verdagtes aan te keer.
'Dis hoog tyd'
Mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA, sê hulle verwelkom die uitspraak, en hulle is bly dat die party simpatiseer met die familie en dat dit die voorval verwerp.
“Dis hoog tyd dat die regerende party vir ‘n slag sterk uitkom teen sulke misdade. Ons as Agri SA het wel ook al gesê ons verwerp alle vorme van geweld, nie net dit wat op plase en landelike gebiede voorkom nie,” sê Möller. “Die onderrok hang wel hier bietjie uit as mens kyk na die wyse waarop die ANC al opgetree het wanneer ‘n boer geweldadig optree, en wanneer daar teen ‘n boer geweldadig opgetree word.”
Gesindheid?
Mnr. Ben Marais, voorsitter van die TLU SA, sê hulle het weer vrae oor die gesindheid waarmee die party die verklaring uitgereik het. “Ons is bly dit is uitgereik, maar dit was so lank na die aanval dat ons vrae het oor die bona fides en gesindheid van die party.”
Marais meen die verklaring moes onmiddellik ná die aanval bekend geword het, uitgereik geword het, “en nie eers nadat ‘n ander party ‘n uitspraak oor rassisme gemaak het nie.”
8 Desember 2010